Ma verdwyn met kinders
’n Ma wat toestemming gekry het om haar drie seuntjies op Kersdag te kan sien, het met die kinders verdwyn.
Maryka Matthee (31) word deur beide die Middelburg CMR en die polisie gesoek.
Drie van haar vier kinders is in September verlede jaar deur die CMR verwyder oor gesinsprobleme.
Sy het toestemming gekry om haar drie seuns, van sewe, drie en twee jaar, op Kersdag te kom haal by ’n veiligheidshuis. Sy het egter nooit die kinders teruggebring nie.
Me. Linette du Preez (maatskaplike werker) sê hulle het toestemming van die kinderhof gekry dat die ma se besonderhede gepubliseer mag word in ’n poging om haar te probeer opspoor.
Sy het gemeld dat Matthee ook ’n jaaroue babadogtertjie het.
“Sy kan in die Middelburg óf Rustenburg omgewing wees, waar haar suster bly.”
As enigiemand vir Matthee of die kinders opmerk, word gevra dat hulle me. Du Preez of me. Margaret Siebert (Middelburg CMR) moet bel by 013 282 7261/2 of me. Cherise Steenkamp (Rustenburg CMR) by 014 000 2151 of die ondersoekbeampte, sers. January Mahlangu by 083 976 8553.
