News

Trane in die sel terwyl Knoesen praat uit tronk

Van gesiene raadslid en ACDP verteenwoordiger op die finansiële komitee van die stadsraad, tot geel tronkbroek.

Die val van pastoor Harry Knoesen was Maandag verbysterend, daar waar hy in die Paxton Gevangenis naby eMalahleni met die Middelburg Observer gepraat het.

Die omstrede pastoor, wat van terrorisme aangekla word, sê dat hy nooit ernstig was toe hy oorlogpraatjies op sosiale media gemaak het nie. Volgens hom was dit deel was van ’n plan om ver-regses te ontbloot wat mense finansieel uitbyt.

Hy het vertel van ’n poging op sy lewe in September en ook oor sy ervaring as jong man toe hy na Engeland gestuur is om ANC lede vermoor.

“Daar is soveel uitgesproke mense wat kan sê ‘One settler, one bullet’ of ‘Kill the farmer’, hoekom mag ek nie sulke uitlatings maak nie?”

Knoesen sê hy was kwaad toe hy die eerste video gemaak het, maar dat die seisoen van woede lankal verby is.

Lees ook: Outrage over war talks 

Hy het ná sy eerste video, waarin hy ‘oorlogspraatjies’ gemaak het, besef hy het ’n fout begaan, toe sy vriende uit Mhluzi hom bel en vra wat hom besiel. Hy het toe ’n tweede video gemaak waarin hy sy swart vriende om verskoning vra en daarna na enige iemand wat “moor en verkrag” ongeag hulle ras, as “donkergroenes” verwys.

“Ek het ’n ding of twee daaruit geleer. Onthou net, ek was nooit regs nie, inteendeel, ek is nog altyd geteiken deur die regses.”

Na sy videos die rondte begin doen het, het baie ver-regse leiers hom gekontak. Hy sê dat meeste van hulle ’n “weghardloop plan” gehad het, wat behels dat hul volgelinge reg moet staan om te vlug as daar bedreiging sou wees. Volgens Knoesen is daar verskeie eiendom in die Wes Kaap gekoop, waarvoor volgelinge dan ’n deposito en maandelikse heffing moet betaal om hul plek te verseker, sou hulle moes vlug.

“Die wittes soek ’n wit tuisland. Maar ons is in Afrika! Jy kan nie ’n wit ding in Afrika doen nie. As jy enige iets ‘wit’ wil doen, is jy op die verkeerde kontinent.”

Lees ook: “Haat-pastoor” Harry Knoesen aangekla van terrorisme

Knoesen sê dat sy eintlike doel nie was om swartmense te teiken nie, maar eerder om te baklei teen witmense wat muntslaan uit die vrees van ander.

“Dit was ’n seisoen in my lewe. Ek het beplan om hierdie wittes wat ander so uitbyt vir ses maande te looi. Ek was nooit in die haat politiek nie.”

Hy sê dat hy kwaad was in sy eerste video en ’n sekere manier moes voorkom maar dat hy mense eintlik wil leer om nie te haat nie.

“Ek haat niemand nie. As daar iemand is wat ek haat dan is dit mense wat geld maak uit die swakkes.”

In ontmoetings met ver regse leiers het hy gesê dat hy gaan aanval, nie vlug nie, om mense uit hul kloue te kry. Knoesen vertel dat daar in September verlede jaar, toe hy ’n vooraanstaande man in Pretoria sou ontmoet, ’n poging op sy lewe was.

Hy het terwyl hy van die Oos Rand af Pretoria toe gery het, skielik in die loop van ’n jaggeweer met ’n knaldemper vasgekyk in die voertuig langs hom. Hy het van sy motorfiets afgeval om die loop van die geweer te ontduik.

Lees ook: Knoesen se ‘vriendin’ glo ondersoek

Knoesen sê hy het toe besluit om aan te hou tot in Desember 2019 waarna hy sou “rus” tot Maart 2020 en dan weer met sy binnekring praat of hulle ’n politieke rigting moes inslaan.

Hy beweer dat meeste van sy binnekring geweet het dat hy net bluf, as dit kom by praatjies oor aanvalle.

“Meeste het geweet ek praat net. Maar my administrasie vrou (Riana Heymans) is in die tronk omdat sy nie al die inligting gehad het nie. Ek kry haar baie jammer,” sê Knoesen.

Hy glo as die Valke hom werklik vir twee jaar ondersoek het, soos hulle beweer het in ’n mediaverklaring, hy nie nou in die tronk sou wees nie, omdat hulle “die waarheid” sou weet.

“My tweede in bevel is gearresteer en weer vrygelaat omdat hulle niks in sy huis kon kry nie,” sê Knoesen.

Instansies het volgens hom spioene na sy vergaderings gestuur, en dat hy juis voor hulle aanvalsuitlatings gemaak het, maar dat dit met opset was.

“Enige iemand wat sê wat ek gesê het, is mal. Dit kan nie gedoen word nie.”

Hy meen dat as die spioene weg was, hy en sy binnekring saam gebraai en dan gepraat het van “vrede en eenheid” in Suid-Afrika.
Knoesen sê dat mense hom gewaarsku het dat hy gearresteer gaan word.

“Ek het nog altyd gesê, as ek toegesluit gaan word, sal dit nie ’n swart man wees wat my kom arresteer nie, dit sal ’n wit ou van die taakmag wees.”

Hy sê dat hy glad nie probeer het om bewysstukke weg te steek nie, omdat die notas alles vals was en dat hy besluit het om nie te vlug nie, toe hy ’n boodskap kry wat hom inlig dat daar ’n lasbrief vir hom uitgereik is.

Lees ook: Drie saam pastoor vir terrorisme aangekla 

Knoesen sê dat daar een ding is wat hy in die tronk besef het, dat meeste mense daar is omdat hulle honger is. En dat daar baie mense van alle rasse is wat moeg is vir die stand van sake in Suid-Afrika.

Sy ontmoeting met die Crusaders het begin toe hy as 24-jarige in 1984 uit die weermag ontslaan en Engeland toe gestuur is. Hy het met ’n vals paspoort as Steven Watson die land binne gegaan met die belofte dat hy R20 000 sou kry om foto’s van ANC lede in ’n kantoor in Londen te neem.

Terwyl hy by ’n koffiewinkel gesit het, het ’n man by hom kom sit en hom op sy regte naam genoem. Die man het vir hom ’n bruin papiersak gegee waarin daar ’n pistool en ’n knaldemper was.

Harry Knoesen, Riana Heymans en Eric en Errol Abrahams word aangekla van terrorisme. FOTO: Gerhard Rheeder (Middelburg Observer)

“Hy het vir my gesê dat hulle my nie so baie geld betaal het net om foto’s te neem nie. Hy het my paspoort gevat en vir my gesê om die mense in die kantoor te gaan skiet, van die wapen ontslae te raak en die knaldemper aan hom terug te gee. Hy sou dan my paspoort vir my teruggee sodat ek kon vlug.”

Knoesen sê dat hy geweet het dat hy dit nie sal kan doen nie, maar dat hy gemaak het of hy instem. Hy was gestrand in Engeland en het toe uit radeloosheid ’n hooggeplaasde in die lugmag gekontak wat vir hom ’n ontmoeting met ’n Britse man by ’n restaurant gereël het.

Die man het die vuurwapen by hom gevat en gereël dat hy, sonder ’n paspoort, terugvlieg Suid-Afrika toe.

“Ek was nog ’n kind gewees. Ek was gestrand in ’n vreemde land,” vertel Knoesen bewoë.

Hy sê dat hy jare later dieselfde Britse man in Suid-Afrika ontmoet het toe hy betrokke geraak het by die Crusaders.

“Ek kan nooit ’n terroris wees nie. Ek kon Londen agter gelaat het met ’n kantoor vol dooie mense, maar ek het nie, want dit is nie wie ek is nie.”

Knoesen hou vol dat die National Christian Resistance Movement (Crusaders) blad op Facebook net ‘n front was en nie die ware Crusaders weerspieël nie. Hy sê dat die binnekring van die Crusaders steeds bestaan en alhoewel hulle ‘bekommerd’ was oor die rigting wat hy, as leier van die groep, ingeslaan het, hulle hom steeds ondersteun.

Hy sê ook dat hy vas glo dat hy nie sy volgelinge, soos Heymans, verraai het nie omdat meeste geweet het dat hy nie regtig wou oorlog maak nie.

“Daar was op ’n stadium iemand wat wou weet wat ek wil bestel. Ek het toe grappenderwys eers gesê ek soek ’n hamburger en ’n Coke, en toe later RPG’s, AK’s en missiele. Ek het nog vir die ouens gesê hy sit aan die ander kant vir ons en lag nes ons vir hom sit en lag. Geen wapenhandelaar sou jou mos so blatant vra wat jy nodig het nie.”

Hy sê ook dat daar ’n “buite mag” was wat vir hom 200 000 gewapende soldate aangebied het. Hy het daaroor gelag maar tog besef dat daar mense is wat ernstig is oor oorlog.

“My eie mense is erger as enige iemand anders. As ’n wit man jou wil begrawe, sal jy nooit uit daai graf uit kom nie.”

Knoesen sê dat hy ook deur ver regse leiers beskuldig is dat hy ’n staatsspioen is wat geplant is om onmin tussen hulle te saai.

“Ek kry die mense wat saam met my aangekla is jammer. Ek hoor hoe hulle party aande in hul selle huil vir hul families. Hulle hoor my nie huil nie. Ek vou my kombers dubbeld oor my kop as ek huil.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button