News

Waarom en wanneer word kinders van ouers gevat?

’n Ma wat deur die Christelike Maatskaplike Raad en polisie in Middelburg gesoek word nadat sy Kersdag met haar kinders verdwyn het, wat vroeër uit haar sorg verwyder is, het skerp reaksie onder inwoners uitgelok. 

Terwyl sommige van mening was dat die kinders sekerlik met rede van Maryke Matthee weggevat is, was daar talle lesers wat hulle aan die ma se kant geskaar het, haar geluk gewens het en hul hoop uitgespreek het dat sy nooit opgespoor sal word nie.

Die CMR, een van vier welsynsorganisasies in Middelburg, sê dat dit belangrik is dat die publiek weet hoe die Kinderwet werk, wat bepaal wanneer en waarom kinders uit hul ouers se sorg verwyder word.

Middelburg is in verskeie areas opgedeel wat deur die CMR, die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie, die staatswelsyn en die Departement van Sosiale Ontwikkeling gediens word. Die area waar gesinne bly bepaal dus watter instansie die geval sal hanteer.

Lees ook: Ma verdwyn met kinders

Artikel 7 van die Kinderwet bepaal wat die beste belange van kinders is terwyl Artikel 150 bepaal wanneer ’n kind as sorgbehoewend klassifiseer.

Om ’n kind van sy gesin te verwyder is die laaste opsie. Daar word eers probeer om die gesin by te staan deur dinge soos ouerleiding klasse, om te probeer om vir die ouers werk te soek sou daar finansiële probleme wees, asook om die gesin te lei om ’n spesifieke kind se gedrag te hanteer. Kinders sal dan eers verwyder word sou die omstandighede nie verbeter nie.

Drastiese omstandighede wat die verwydering van ’n kind regverdig is faktore soos dwelmgebruik, fisiese geweld (tussen ouers of teenoor die kind), seksuele misbruik of wanneer kinders gebruik word om te bedel.

Indien ’n kind uit sy ouers se sorg verwyder word, volg daar ’n Kinderhofproses. Die saak moet binne 24 uur of met die eerste werksdag by die hof aangemeld word. Die maatskaplike werker wat betrokke is moet dan verduidelik hoekom die kind uit sy gesin verwyder word.

Lees ook: Middelburg se eie huis van gruwels

Daarna volg daar ’n minstens drie maandelange ondersoek waarin die kind se omstandighede deeglik bekyk word. Gedurende die ondersoek word alle aspekte van die kind se lewe bekyk en daar word verskeie onderhoude, onder andere met familielede en bure, gehou.

In noodgevalle word kinders wat uit hul gesinne verwyder word, tydelik in ’n veiligheidshuis geplaas. Daar is twee sulke huise in Middelburg. Die eerste opsie vir plasing van ’n kind is gewoonlik by ’n familielid. As dit nie gepas is nie word so ’n kind by iemand geplaas wat goedgekeur is as plek van veiligheid of pleegouer. Al hierdie oorwegings word deur die hof beslis.

Daar word gekyk na die faktore wat veroorsaak het dat die kind verwyder is. Tydelike faktore soos onstabiliteit as gevolg van werkloosheid kan verbeter word en ouers kry die kans om hulself aan die hof te bewys.

Lees ook: “Huis van gruwels” ma lewenslank tronk toe

Maar, die CMR waarsku, dat as ’n ouer ’n gewoonte het om ’n werk vir net ’n paar maande te hou, voordat hulle weer werkloos sit, ouers nie na ’n paar weke in diens moet dink dat hulle hulself bewys het nie.

Daar word ook op Vrydae gereël dat ouers hul kinders by die CMR kantore kan besoek. Baie ouers versuim egter om kontak met hul kinders te behou, nadat hul weggeneem is. Dit is onwettig om enige ouer te laat betaal om hul kinders te sien.

Die maatskaplike werker moet deurentyd aan die hof verduidelik hoe hulle die gesin bygestaan het en probeer het om die situasie te verbeter.

• Daar is tans ’n groot behoefte vir mense om te registreer vir die tydelike plasing van tieners.

• Die publiek word versoek om maatskaplike gevalle by die CMR kantore in Pleinstraat 23 A aan te meld.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button