Afstandbeheer diewe volg egpaar
Die Hoof Uitvoerende Beampte van die Kamer van Koophandel en haar man is deur diewe, wat afstandbeheerders gebruik, besteel.

Me. Anna-Mart Ott en haar man, Nick, was verlede Donderdag slagoffers van afstandbeheerdiewe wat artikels uit hul voertuig in Pretoria gesteel het.
“Ons vermoed hulle het gesien ons het ’n Mpumalanga registrasienommer en ons gevolg van die hoofweg af tot by die winkelsentrum by Lynnwoodweg. Die sekuriteitswag het later bevestig dat die Run X saam met ons ingery het.”
Mnr. Ott het die deure met sy afstandbeheer gesluit en hulle het by ’n restaurant gaan eet.
’n Rukkie later het mnr. Ott weer uitgekom om hul wegneempakkie in die kar te bêre.
“Ons Mercedes se spieëltjies het inbeweeg, so sekere gedeeltes van die seine hét gewerk.” Die booswigte het egter ’n afstandbeheerder ingehou sodat die kar se deure nie sluit nie.

Die booswig het hierna agter mnr. Ott by die sentrum inbeweeg en moes gesien het dat hulle na die slaghuis toe gaan.
Hy het doodluiters aan die anderkant van die sentrum uitgekom, die kattebak oopgemaak en gekyk of daar iets is wat hy kan buit. Toe hy niks van waarde kry nie, het hy by die passasierskant ingeklim en alles wat hy onder die sitplekke kon kry uitgehaal.
Me. Ott sê haar handsak met al haar kaarte (bank- en ID kaarte), asook haar Tablet, wat in ’n leersak was, is gevat.
“Gelukkig het ek my foon by my gehad. ’n Mens is duisend keer paraat en daardie één keer wat jy nie weer kyk nie, vat hulle die kans! En dit het gebeur terwyl daar vier jongmense in die restaurant reg naby ons voertuig gesit het!”
Lees ook: Straatrowers bedrywig by poskantoor
Nog voordat die bank een van die kaarte kon stop, het die diewe “vliegkaartjies Durban toe gekoop vir R1 000 op my kredietkaart.”
Me. Ott sê die finansiële waarde van die artikels wat gesteel is, is nie soveel soos die sentimentele waarde nie. “Die leersak waarin my Tablet was, het my man by Shell in Marokko gekry.”
Hulle het ’n diefstal uit motorvoertuigsaak by die Brooklyn Polisie gaan open.
“Baie mense maak nie sake in sulke gevalle nie, omdat hulle nie wil terugkeer as skuldiges gevang word nie. Maar dit is belangrik om ’n saak te maak, want as jy nie ’n saak maak nie, het die polisie nie die ammunisie om hulle te vervolg nie.”
Me. Ott het die CCTV Videomateriaal by die sentrum gaan haal en ook skermskote van die verdagte aan die Observer beskikbaar gestel.
“Ek wil hê die hele wêreld moet sy gesig sien!”
•’n Video van die gebeure kan gesien word by www.mobserver.co.za.
