News

Bergman-sindikaat steeds doenig

’n Sindikaat wat slagoffers indoen deur vervalsde betalingsbewyse te gebruik om goedere te ‘koop’ is steeds in verskeie provinsies doenig.

Die ‘gawe oom’ wat sake oor die foon doen, het sedert 2014 al talle plaaslike besighede ingeloop en derduisende rande se goedere, waaronder vleis, gasbottels, grassnyers en motorfietse in Middelburg gesteel. Dit blyk asof die sindikaat hom deesdae veral toespits op brandstof nadat twee brandstof depots, een in Pretoria en die ander in Bela-Bela, met die Middelburg Observer kontak gemaak het.

Die modus operandi bly min of meer dieselfde: ’n baie vriendelike Afrikaanssprekende man bel en bestel goedere oor die foon. Die name Koos en Gawie is al gebruik en die oproep word gewoonlik op ’n Vrydag of voor ’n vakansiedag gedoen. Hy onderneem om ’n internet-betaling te doen, maar omdat dit gewoonlik van ’n ander bank as die teiken se bank is, sal die geld eers later reflekteer.

Lees ook: Bergman-sindikaat slaan weer toe

’n Voormalige inwoner, wat nou in Bela-Bela woon en ’n diesel depot bedryf, sê dat hy verlede jaar April vir die eerste keer met Bergman Vervoer te doen gekry het. Daar is diesel bestel en ’n betalingsbewys deurgestuur.

Die man het onraad vermoed en die dokumentasie nagegaan. Hy het die polisie ontbied en drie verdagtes is op die toneel gearresteer nadat hulle begin diesel tap het.

Die verdagtes het die polisie na die man wat hulle gehuur het in Eldorado Park gevat waar ’n man gearresteer is.

Lees ook: Byna duisende kwyt met Bergman-sindikaat

Volgens inligting het die man kort daarna skuldig gepleit op die aanklagte en hy is gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar.

In Desember is dieselfde diesel depot in Bela-Bela weer geteiken. Die polisie het met die tweede voorval op ’n trok beslag gelê wat steeds in die polisie se besit is.

Die vrou van Pretoria, wat nie haar naam genoem wou hê nie, sê dat ’n Afrikaanssprekende man met die naam Gawie hulle gekontak het om diesel te bestel. Hy het ook die naam Bergman Transport gebruik en haar pa kon betyds agterkom dat daar fout is, nadat hy die naam op die internet gesoek en op berigte op www.mobserver.co.za afgekom het.

“Ons het vir hom gesê dat ons niks sal laat gaan voordat die geld nie in ons rekening reflekteer nie. Toe hoor ons net nooit weer van hulle nie.”

• Dit is nie die eerste keer dat Eldorado Park en die sindikaat in dieselfde asem genoem word nie. ’n Vorige slagoffer, wat uit radeloosheid sy eie ondersoek gedoen het, het ook by ’n eiendom in Eldorado Park uitgekom. Dit blyk dat die sindikaat dit elke keer reg kry om die lang arm van die gereg te ontduik.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button