News

Inbrekers gee vir honde water

In ’n vreemde sameloop van omstandighede het ooggetuies gesien hoe inbrekers honde kalmeer deur vir hulle water te gee.

Die polisie was Dinsdagmiddag voor enige ander noodgroepe by ’n huis in Lebombostraat (Aerorand) nadat hulle in kennis gestel is dat daar ’n gewapende rooftog by ’n huis was.

Alhoewel dit nie ’n rooftog was nie, was een van die inbrekers wel gewapen.

Mnr. Juan Jochimsen sê as dit nie vir ’n buurvrou se blitsige optrede was nie, sou daar waarskynlik derduisende huisware by sy huis gesteel gewees het.

Die vrou (wie se naam weerhou word op versoek) het later vir hom vertel dat sy op die eerste verdieping van hul meenthuis gestaan het, toe sy omstreeks 12:00 deur die venster gesien het dat daar ’n wit bakkie skuins voor mnr. Jochimsen se huis stop.

Sy het aanvanklik gedink dit is mense wat vir die gesin daar wag en aangegaan met haar huiswerkies.

Minute later het sy weer deur die venster gekyk en gesien dat ’n man met ’n bottel water vir die honde deur die palissadeheining gee. Dit was duidelik net water, want hy het self ’n sluk of twee van die water tussenin geneem.

Lees ook: Afstandbeheerdiewe volg egpaar

Die volgende oomblik het sy opgemerk dat daar ’n ander man besig is om die hek op te lig.

Sy het besef dat hulle gaan inbreek en het haar man gebel en gevra om die polisie te kontak, terwyl sy die trappies afgehardloop het om ook alarm by een van die bure te gaan maak. Sy kon nie die bure in die hande kry nie en is weer die trappies op.

Terug by die venster het sy gesien dat een van die vier booswigte ’n wapen in sy hand het en dat hulle die bakkie reeds agteruit in die erf ingestoot het, om hul buit daarin te laai. Die groep het ook reeds die huis se deur oopforseer en was besig om ’n televisie in te laai.

Op hierdie tydstip het sy haar alarm se paniekknoppie gedruk en het haar huisalarm begin skree.

Die groep inbrekers het oorbluf na buite gestorm en rondgekyk waar die alarm afgaan, waarna hulle in die bakkie gespring en weggery het in die rigting van die Vandyksdriftpad.

Lees ook: Polisie soek na huisrowers wat pas huis beroof het

Mnr. Jochimsen sê kort hierna het die polisie opgedaag en die omgewing gefynkam, maar die booswigte was skoonveld.

Alhoewel talle kaste in die huis oopgemaak en juwele gestrooi in hul kamer gelê het, het die boewe net weggekom met die televisie. Hy glo die feit dat sy alarm gemaak het, het hulle laat besluit om alles net so te los en te ry.

Hy vermoed die diewe het hulle die afgelope tyd dopgehou, want die bakkie is ’n paar keer in die straat opgemerk.

Die afgelope week kon hulle weens ’n pap afstandbeheer ook nie hul alarm afsit nie. “As ons so ent wegry, het ons gewoonlik die alarm aangesit en die diewe moes gesien het ons sit dit hierdie week nie meer aan nie.”

Mnr. Jochimsen het die polisie bedank wat so vinnig opgedaag het, asook die buurvrou, ander bure en groepe wat help soek het na die diewe.

•Die vrou het aanvanklik gesê dit is ’n NP200 bakkie, maar later was sy nie doodseker nie en is daar ook gesê dat dit ’n NP300 kon wees. In haar verklaring het sy ook genoem dat een van die diewe ’n wit en die ander een ’n rooi hemp aangehad het.

•Sowat ’n uur later was daar ’n soortgelyke inbraak in Van Elderstraat (Gholfsig) waar die hek ook van die spoor afgehaal is. ’n Foto is op noodgroepe geplaas van die bakkie en het mnr. Jochimsen gemeld dat die buurvrou gesê het dat dit dieselfde bakkie is.

•’n Inwoner van Eikestraat (Kanonkop) het Woensdagaand vir ’n joernalis gesê dat ’n wit bakkie Dinsdag ook voor haar huis gestop het.

Die huishulp wou hulle nie inlaat nie en het al die deure gesluit. Die huishulp het vir haar gesê dat een van die mans wat met haar gepraat het, ’n rooi hemp aangehad het en dat hulle ook vier in die voertuig was.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button