Waarheen met verslaafdes?
Om net aan die basiese behoeftes van ’n verslaafde in rehabilitasie te voorsien, beloop tussen R2 500 en R3 000 per maand en is dit nie maklik om hierdie fondse te in nie.
Die vroue van Almal Help Almal Vlerke is al vir etlike weke besig om vir mense deur middel van plakkate te vra om nie vir die bedelaars geld te gee nie, want dit word vir dwelms gebruik.
Hulle praat ook met die dwelm- en drankverslaafdes en spoor hulle aan om hulp te soek by rehabilitasiesentrums.
Maar dit is presies hier waar die probleem lê. “Daar is van hulle wat bereid is om te gaan vir hulp, maar niemand kan meer verniet help nie,” het me. Rozllin Cousins (Almal Help Almal Vlerke) moedeloos gesê.
Me. Ayesha Snyman, wat aan die stuur van Hope Corner in Middelburg staan, sê dat slegs drie van die 28 verslaafdes (wat van regoor die land kom) se families bydraes lewer.
Lees ook: Deernis met mense vasgevang in verslawing
Dit kos sowat R3 000 per maand om een persoon te help. Dit sluit berading, drie etes per dag, badkamerbenodigdhede en medikasie in.
Alhoewel sy soms wonder waar al die fondse vandaan gaan kom, “voorsien die Here altyd. Ek weet nie hoe onderhou ons 28 mense nie en as dit nie vir Hom was nie, sou ons al lankal toegemaak het.”
Me. Snyman sê dit het selfs al gebeur dat hulle winkels toe gegaan het en dat sy gewéét het daar is nie geld in die rekening nie. “As ons egter die kaart deurtrek, dan is die geld net daar. Tussen die hartseer, is daar altyd wonderwerke.”
Hope Corner het nou twee huise vir verslaafdes, nadat hulle deurgebreek het na ’n huis aan die agterkant van die kompleks. Mans en vroue bly apart, tensy hulle getroud is. Hulle is ook besig om ’n kliniekkamer in te rig om verslaafdes te ondersteun met erge onttrekking.
Sy het nog plek vir een vrou. Die program wat hulle volg neem ’n jaar.
Lees ook: Pastoor sê hy sal aanhou werk met verslaafdes op straat
“Ons glo dat die Here in mense se harte werk om ons te help.”
•Past. Jannie Jacobs (Oorwinnaars Halfweghuis vir mans) stem saam met me. Snyman en is hulle dankbaar vir elke persoon wat hulle ondersteun.
Dit kos sowat R2 500 per maand om ’n man by Oorwinnaars te help.
’n Verslaafde drink geweldig baie koffie nadat hy die dwelms gelos het. “Hulle drink een blik koffie binne drie dae klaar, wat beteken dat net ons koffie sowat R800 per maand beloop.”
“Die Here is ons begroting en daar gebeur baie wonderwerke.”
Lees ook: ‘n Dorp in ‘n dwelmkrisis – verslaafdes bedel en sterf op straat
Hy sê die verslaafde moet self by hulle uitkom as hy gehelp wil word. “Dit help nie om iemand net in die straat op te laai en by ons te kom aflaai nie.”
Hy het ook gesê dat verslaafdes moet onthou, “as hulle by die Oorwinnaars aankom, het hulle ’n ontmoeting met Christus.”
Daar word ook van die mans verwag om te hou by die reëls, soos dat hulle nie mag rook nie. Daar word ook nie medikasie voorsien vir onttrekking nie.
Na die onttrekking moet hulle ook betrokke raak by die dagtake in en om die huis. “Dissipline is baie belangrik.”
Vir persone wat hom vra vir ’n lysie van benodigdhede, sê hy net: “enigiets is welkom, want ons kan alles gebruik.”
Sakelui en persone wat bydraes wil lewer vir dié twee huise, of ’n verslaafde wil borg, kan me. Snyman bel by 082 905 3418 of past. Jacobs by 082 566 1862.
