Verbod op vee-veilings opgehef
Die verbod wat op vee-veilings geplaas is na die uitbraak van bek-en-klouseer in Limpopo verlede jaar, is vandag gelig.
Minister vir die departement landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het gesê dat die verbod opgehef is, maar dat daar streng maatreëls is wat deur afslaers nagekom moet word.
Een daarvan is dat alle agente by die Landbou Produksie Agente Raad geregistereer moet wees. Mininster Didiza het gewaarsku dat agente wat voor Maart 2018 geregistreer is, se sertifikate verval het en dat hulle weer moet aansoek doen.
Lees ook: Wat nou met bek-en-klou? Privaat besigheid betaal vir staat se flaters
Die minister sê dat alhoewel die verbod gelig is, dit nog nie beteken dat alles veilig is nie. Sy het aangeraai dat afslaers en agente hulself vertroud maak met voorkomingsmaatreëls:
•Om nie hoë-risiko diere te skuif nie. Dit sluit in diere wat lyk asof hulle siek is, wat van ’n onbekende bron afkomstig is of wat van areas kom wat met bek-en-klou beset is.
•Om net diere van bekende en veilige bronne te koop.
•Kopers moet aandring op gesondheidsertifikate voordat diere op hul plase afgelaai word.
•Deur altyd nuut aangekoopte diere in isolasie te plaas tot hul gesondheid bevestig kan word.
Lees ook: Foot-and-mouth disease spreads to four feedlots in Limpopo
Minister Didiza het gesê dat die bek-en-klou uitbraak nog nie oor en verby is nie, maar dat dit blyk dat hulle daarin geslaag het om die versprei van die siekte na ander areas te bekamp.
Daar is reeds begin met die slagting van siek diere by spesiaal aangewysde slagpale.
