Man stoot bedelaar met bakkie
’n Jong man wat gevoel het ’n bedelaar bedreig sy lewe, het die bedelaar met sy bakkie gestoot, toe dié begin aggressief word.
Die man (wat verkies om anoniem te bly) het vanmiddag op die hoek van Sondagsrivierstraat en Mandela rylaan by die verkeerslig gestop.
Hy het opgemerk dat die bedelaar tekens met sy arms wys, maar hy het dit geïgnoreer. Die volgende oomblik het die bedelaar teen sy venster aan die passasierskant begin hamer. “Hy het millitant opgetree en allerhande bewegings met sy arms gemaak.”
Die motoris sê hy het steeds anderpad probeer kyk, maar die bedelaar het aggressief teen sy bakkie verby geloop en steeds wild beduie.
“In ’n poging om hom weg te kry van my voertuig af, het ek hom effens gestoot met die bakkie. Hy het nie eers geval nie, maar was toe éérs aggressief en het teen die bestuurderskant se venster begin klop en slaan.”
Volgens die jong man het hy vinnig gekyk vir verkeer en toe maar oor die rooi lig gery om verdere konfrontasie te vermy.
“Dit is nie die eerste keer wat dit met my gebeur het nie. ’n Vorige keer was my pa saam en het ons ook weggery.”
Hy vermoed dat die bedelaar gereeld mense pla en het gewonder of daar nie ook ander mense is wat omgekrap is oor die jong bedelaar se optrede nie.
•Hy het aangedui dat hy die kwessie by die polisie gaan aanmeld.
