News

Nagmerrie nadat vlamme huis verswelg

Victor Boshoff sê hy het Donderdag in die vroeë oggendure sy ergste nagmerrie beleef toe hy hulpeloos moes toekyk hoe twee derdes van sy huis binne 15 minute afgebrand het.

“Dit was altyd my grootste vrees dat my huis sal afbrand en ek kon niks daaraan doen nie.”

Mnr. Boshoff, sy vrou Karin, asook hul seun Darren, is vir rookinaseming in die Life Midmed Hospitaal behandel.

Hulle is kort na 02:00 gewek toe die huis se alarm afgegaan het. Mnr. Boshoff het na die woonstelgedeelte beweeg en me. Boshoff na die sitkamergedeelte. Die twee het byna gelyk die vlamme gesien.

“’n Mens wonder altyd wat jy sal gryp as jou huis brand, maar daar was nie tyd nie. As die alarm nie afgegaan het nie, was my kind in sy kamer vasgekeer en sou hy doodgebrand het. Net vyf minute later en ons sou almal in die huis vasgekeer gewees het,” vertel mnr. Boshoff.

Die egpaar, hul seun Darren, asook mnr. Boshoff se ma, Rina (wat in die woonstel bly) het na buite gevlug.

Mnr. Boshoff onthou dat hy gehardloop het om ’n brandblusser te kry, maar sy voet het gegly en hy het ’n kuitspier geskeur.

“Binne 15 minute het twee derdes van ons huis heeltemal afgebrand.”

Met die brandweer se aankoms, het Darren ook ’n brandweerpak aangetrek en probeer om die vlamme te blus.
Hy en sy ouers is hospitaal toe geneem omdat hulle so baie rook ingeasem het.

Die gesin was hartseer oor sentimentele artikels in die sitkamer- en kuiergedeelte wat tot as verbrand het. Me. Boshoff se hok met geitjies daarin het ook verbrand.

“Niks is egter meer sentimenteel as iemand se lewe nie. Ons is dankbaar dat ons almal lewendig uitgekom het.”

Nadat hulle ontslaan is, moes hulle die hartseer van ’n leeftyd se bymekaarmaak gaan aanskou.

Maar te midde van al die hartseer, het hulle die harte van Middelburgers in hierdie tyd leer ken.

“Mense het net opgedaag, ons klerekaste leeggemaak en huis toe gevat om dit te gaan was. Ons klere is oral in Dennesig en Kanonkop by mense. Vreemdelinge het ons vriende geword en ons is dankbaar vir elke persoon wat ons gehelp en bygestaan het.” Hulle sê ook spesiaal dankie vir die brandweer wat so vinnig op die toneel was.

•Die gesin bly tans in ’n woonstel by familie terwyl daar ondersoek gedoen word oor wat die oorsaak van die brand was.

Die huis word bewaak deur sekuriteitswagte. Mnr. Boshoff sê hulle doen dit, omdat die huis se struktuur onstabiel is en dit onveilig is vir enige persoon om daar in te gaan.

•Hulle weet nog nie wat die totale omvang van die skade is nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button