News

Windpomp maker sterf na baie swaarkry

Nick Dannhauser (55) die man wat sonder spraak en sonder ’n been met sy linkerhand windpompies, ossewaentjies, skepe en karretjies gebou het, is Saterdag na ’n lang siekbed oorlede.

“Daar waar hy nou in die hemel is, is daar nie ongemak nie. Hy het baie swaar gekry, sy lyding is verby,” was die woorde van sy vrou, Liz, wat hom die afgelope paar maande met liefde versorg het. Hulle was 35 jaar getroud.

“Nick was só goed vir my, al kon hy nie praat nie, het ons mekaar verstaan.”

Middelburgers sal mnr. Dannhauser onthou as die man wat ongelooflik kunstig was, al moes hy soms sonder krag en met basiese toerusting, die spesiale artikels maak.

Hy was jare gelede ’n dieselwerktuigkundige, maar die gesin het alles verloor toe hy sy been verloor het in ’n ongeluk.

Lees ook: Man bou modelkarre met een hand

In 2013 het mnr. Dannhauser ook ’n aneurisme gehad. Hy was vir maande aan sy bed gekluister en kon glad nie kommunikeer nie. Hiertydens het me. Dannhauser hom ook versorg.

Nadat sy medikasie verminder is, het hy met geluide met sy vrou begin kommunikeer.

Hy het die gebruik van sy regterhand ook verloor weens die aneurisme, maar het eendag al beduidende gewys sy moet vir hom toerusting aangee, waarna hy met sy linkerhand begin speelgoed bou het uit blik uit.

Nog later het hy pragtige skepe, ossewaens en windpompies uit hout gemaak.

Op 1 Julie 2019, op me. Dannhauser se verjaardag, het mnr. Dannhauser ’n massiewe beroerte gehad. Hy het vinnig agteruit gegaan en, omdat hy voltydse sorg nodig gehad het, het hulle by hul kinders in Trichardt gaan bly.

Mnr. Dannhauser was daarna kort-kort in en uit die Evander Hospitaal.

Lees ook: Man sonder been en spraak bou ossenwaens en karre vir oorlewing

In Januarie het hy ’n longvirus opgedoen en is me. Dannhauser in kennis gestel dat hulle niks verder vir hom kon doen nie. Hy is weer saam met haar huis toe, waar sy hom versorg het tot verlede Vrydag toe hy weer ’n beroerte gehad het en sy hom hospitaal toe moes neem. Hy is vroeg die volgende oggend oorlede.

Me. Dannhauser sê dit was vir haar ’n voorreg om na haar man te kyk. “Hy het so lank geveg om by my te wees. Hy het altyd geworry oor my.”

Mnr. Dannhauser word oorleef deur sy vrou, Liz, kinders Dean en Dwayne, skoondogters en ses kleinkinders.

Dit was sy wens om ook in Middelburg begrawe te word soos sy broer, Gert. Die begrafnis is Donderdag om 11:00 uit die Corpus Christi gemeente.

•Me. Dannhauser kon alles gereël kry vir die begrafnis, maar omdat sy geen inkomste het nie, kon hulle teen vanoggend nog nie blomme of verversings bekostig nie.

As enige persoon ’n bydrae wil maak in die vorm van blomme of eetgoed, bel me. Dannhauser by 071 109 3958.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button