Afperser dreig seun oor “kaalfoto’s”
'n Seun (15) het dreigboodskappe ontvang dat daar vervalsde kaal foto's van hom op sosiale media sal beland.

Die afperser het gedreig dat hy kaalfoto’s so sal dokter dat dit lyk asof dit aan die seun behoort en dit dan aan sy Facebook vriende sal stuur, mits hy betaal word.
Hy wou eers R500, toe R300 en daarna sommer R1 500 hê wat deur Cash Send of by Spar of Pep inbetaal moes word.
Toe die seun nie betaal nie, is hy herhaaldelik gedreig.
Die slagoffer se ma sê dat haar kind in ‘n toestand was.
Sy en haar man het die nommer gebel.
Die afperser het twee name, Nhlanhla en Andile, gebruik.
Hulle is gedreig dat hy na hul huis toe sal kom, omdat dit maklik is om uit te vind waar hulle bly.
“My kind was angsbevange dat hy by ons huis gaan opdaag. Ek moes vir hom kalmeerpille gee om hom rustig te kry,” het die ma vertel.
Die ouerpaar beoog om die saak by die polisie aan te meld.
• Daar is ook verneem van ‘n mansonderwyser op dieselfde manier afgepers is.
• ‘n Joernalis is deur kuberkrakers geteiken wat beweer het dat hulle toegang tot haar rekenaar en haar webkamera verkry het.
Hulle het een van die joernalis se wagwoorde geken en genoem in ‘n dreig e-pos dat hulle haar ander wagwoorde ook ken.
Die afpersers wou Bitcoin hê of anders sou hulle “foto’s en videomateriaal” van die persoon wat pornografie kyk op sosiale media platforms uitlek.
Ongelukkig vir hulle, het die joernalis nie ‘n webkamera op haar rekenaar nie.
