Middelburg skool gesluit oor koronavirus vrees
’n Privaat skool in Middelburg het sy deure vir die dag gesluit nadat een van die ouers laat weet het dat hulle gaan toets vir die koronavirus.
Die hoof van die skool het in ’n boodskap aan haar ouers gesê dat sy die skool vir die dag sluit, omdat sy nie kanse wil vat tot die ouer se toetsuitslae bekend is nie.
Die hoof het by navraag bevestig dat die skool gesluit is, maar gesê dat sy glo dat die ouer negatief sal toets. Sy sê dat sy egter nie kanse kan vat nie. Die skool se naam word weerhou om die identiteit van die ouer te beskerm.
Sy het self besluit om die voorsorg maatreël te neem en die skool is glad nie deur die Departement van Gesondheid gesluit nie.
Daar is vanoggend nog ses koronavirus gevalle in Suid Afrika bevestig wat die totale getal tot 13 mense bring. Nie een van die gevalle is in Mpumalanga nie.
Lees hier om te sien waar die nuwe gevalle aangemeld is.
Lees ook: Geen Koronavirus gevalle in Middelburg
Die Departement van Gesondheid het riglyne bekend gestel waarin hulle sê dat mense wat getoets moet word as hulle een van die volgende gedoen het in die 14 dae voor hul simptome wys:
• In kontak was met iemand wat die koronavirus het.
• Na een van die hoë risiko lande gereis het. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NCID in Engels) is hierdie lande tans Sjina, Hong Kong, Japan, Korea, Singapoer, Viëtnam, Taiwan, Italië en Iran.
• By ’n instansie gewerk het waar mense met koronavirus behandel word.
• Opgeneem is met erge longontsteking waarvan die oorsaak onbekend is.
Indien jy dink dat jy getoets moet word, bel die NCID se hulplyn 0800 029 999 wat jou dan na die naaste instansie sal verwys.
