Dokter laat speke sing in Oman
Dr. Danie du Plessis, van Middok 24, Life Midmed Hospitaal se Ongevalle afdeling, het pas teruggekeer vanaf Oman waar hy ’n moordende 1 070km op sy fiets afgelê het.

Hy het die wedren, wat aangebied is deur die BikingMan Organisation, in 85 ure voltooi. Die afsnytyd was 120 ure.
Dr. Du Plessis kan boeke vol skryf oor die land se mense, wat hulle gasvry ontvang het, maar ook duidelik vir hul medemens omgee.
As hulle van moegheid langs die pad moes slaap, het hulle nie juis rus gekry nie, want almal het gestop en gevra of hulle hulp nodig het.

By die meeste winkels waar hulle gou moes stop vir ete, was daar altyd ’n warmfles met gratis koffie en dadels beskikbaar. En natuurlik moes hulle by die McDonald’s op die pad stop vir ’n vinnige hamburger!
Op ’n kritieke stadium van die wedren het hy en sy fietsrymaat, Alex Vigerouv (van Johannesburg) besef hulle het net te min water om by die eindpunt uit te kom. Sou hulle wegwyk van die oorspronklike roete, sou hulle ’n 12km draai moes ry en baie tyd mors.

Presies op hierdie tydstip het ’n voertuig langs hulle gestop en alhoewel die taalkwessie ietwat van ’n struikelblok was, het die persone in die voertuig gou besef wat aangaan en sommer drie bottels water vir die fietsryers gegee.
Hy sal nooit die besondere natuurskoon van dié woestynwêreld vergeet nie en het teruggekeer met ’n boek van herinneringe wat in sy gedagtes vasgeprent is.
•Dr. Du Plessis is lid van die Middelburg Fietsryklub.
•Sy inspirerende verhaal kan gesien word in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer.

