Generaal Hertzog se graf oopgegrawe
Die historiese graf van generaal James Barry Munnik Hertzog is Saterdagaand oopgegrou.

Dit is bevestig dat dié historiese familiegraf oopgegrou is, maar die familie kon nie kommentaar lewer nie, aangesien die polisie se forensiese span nog op die toneel besig was met die ondersoek.
Generaal Hertzog is die oupagrootjie van Middelburg se ds. Colin Hertzog, leraar aan die Hervormde Kerk, Noord gemeente.

“My oupa is na hom vernoem, asook my pa, my broer en ook my seun,” het ds. Hertzog vanmiddag gesê.
Hy het nie geweet dat sy bekende oupagrootjie se graf oopgegrou is op die plaas Waterval, tussen eMalahleni en Verena nie. Ds Hertzog en sy gesin was vir agt dae in die Vryburg omgewing, waar sy dogter getroud is.

•Genl. Hertzog was bekend as Barry Hertzog en is gebore op 6 April 1866 en oorlede op 21 November 1942. Hy was ’n boeregeneraal tydens die Anglo Boere-oorlog en was eerste minister van die Unie van Suid-Afrika vanaf 1924 tot 1939.
•Die familie op die plaas het gevra dat daar nie enige inligting deurgegee word rakende die ondersoek of wat die moontlike motief agter die oopgrawe van die graf is nie.
•www.mobserver.co.za is in besit van ’n video wat van die skade by die begraafplaas geneem is.

