Koronavirus: Kerk deel maskers uit
Die noodtoestand wat Sondag deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is om die verspreiding van die koronavirus in Suid-Afrika te beperk, gaan ’n reuse impak op veral die dorp se kerke hê.
• Geen kontinuïteitsplanne is teen Maandagmore deur die Corpus Christi gemeente in Aerorand aangekondig nie.
Corpus Christi is ook in beheer van die AGS Familia Dai gemeente in die middedorp.
Volgens pastoor Danie de Kock het die beperking van 100 mense of meer by een byeenkoms, beslis implikasies vir die kerk wat Maandagaand tydens ’n noodvergadering met die kerkbestuur bespreek sal word.
“As gemeente sal ons ons onderwerp aan die noodmaatreëls omdat dit die verantwoordelike ding is om te doen,” sê pastoor De Kock.
Hoe die kerke dit gaan doen, kon hy nog nie sê nie, maar het wel beaam dat daar ’n paar opsies is wat die bestuur sal oorweeg.
• Pastoor James Lennox van Solid Ground sê dat die kerkbestuur ook tans besluit hoe om die krisis te benader.
Hy sê alle groot kerkbyeenkomste sal gekanselleer word om lidmate te beskerm.
Volgens pastoor Lennox sal kerkdienste aangepas word. Ook hy het gesê dat die kerk teen Dinsdag, soos Corpus Christi8, ’n plan van aksie sal hê.
• NG Kanonkop se predikant, dr. Casper Booy, sê dat die noodtoestand beslis ’n impak op sy gemeente gaan hê en dat “ons sal aanpas”.
NG Kanonkop se kerkraad vergader Dinsdagaand waar noodmatreëls vasgestel sal word.
• Die NG Suid gemeente se ds. Hardus van Niekerk sê daar is opsies soos digitale platforms om die kerk steeds gebind te hou.
Hulle bestuur ontmoet ook Dinsdagaand om die pad vorentoe te bespreek.
Hy glo dat lidmate verantwoordelik sal optree en self die kerk sal vermy as hulle simptome het.
• Dr Tinus van der Merwe van die Lighuis Gemeente sê dat daar reeds ontsmettingsmiddels by die kerk se ingange en in die kerk is en dat dienste sal voortgaan.
Lighuis sal ook gesigmaskers aan lidmate verskaf wat dit versoek.
“Soos die president versoek het tref ons die nodige maatreëls omdat ons reeds in die Bybel gewaarsku is van peste wat die mensdom sal tref, maar ons is gelowig en vertrou op die Here vir ons gesondheid as kerk, ons versoek wel die wat sleg voel om hulleself te gaan toets en nie ander in gevaar te stel nie,” sê dr Van der Merwe.