
Gerugte het vanoggend op ’n WhatsAppgroep begin dat daar drie persone, een pasiënt in die Life Midmed Hospitaal, en twee in die Middelburg Hospitaal behandel word vir die virus.
Mnr. Dumisani Malamule (woordvoerder, Mpumalanga Departement van Gesondheid) het pas bevestig dat dit onwaar is.
Hy het gesê dat daar nog net twee positiewe gevalle in Mpumalanga is, die een in Nelspruit en die een in Malelane. Beide pasiënte is in huiskwarantyn.
Mnr. Hennie Viljoen (Bestuurder, Life Midmed Hospitaal) sê dat hulle na aanleiding van die nasionale noodtoestand sekere maatreëls wel in plek gesit het by die hospitaal.
Daar is vanoggend ’n vergadering gehou en sal hulle reeds voor die einde van die dag ’n inligtingstoonbank by die hospitaal hê, waar bekommerde inwoners moet aandoen. Daar sal ook inligtingstukke beskikbaar wees.
Verder gaan die hospitaal, soos deur die gesondheidsdepartement voorgestel, toegang in die hospitaal beheer volgens hul minimum reëls om ongewenste toegang tot hul pasiënte in die hospitaal self, te beheer.
Een van die toegangsreëls gaan wees om byvoorbeeld hul aandbesoeke te staak.
Hulle gaan ook waarskynlik voor die einde van die dag ’n vergadering hou met plaaslike dokters, hetsy by die hospitaal of telefonies, om uit te vind hoe die verskillende spreekkamers pasiënte gaan hanteer.
“Ons gaan deel wees van die probleem, as dit nie beheer gaan word nie, gaan dit weghardloop, maar ons wil ook deel wees van die oplossing.”
Alhoewel daar geen bevestigde gevalle in hierdie omgewing tans is nie, het mnr. Viljoen genoem dat die hospitaal egter gereed sal wees, sou ’n siek pasiënt met dié virus kom aanklop.
“Ons is 100% gereed om na so ’n persoon te kom omsien met isolasie en infeksiebeheer. Ons hanteer tog elke dag aansteeklike siektes.”
Hy het dit duidelik gestel dat die gemeenskap ten alle tyd op die Life Midmed Hospitaal sal kan staatmaak.
“Ons is bekommerd, maar nie paniekerig nie.”
•Die Departement van Gesondheid, asook die hospitaal het weereens gevra dat mense nie fopnuus moet versprei nie.
•As ’n persoon vermoed hy het die virus, word daar gevra dat hy dadelik die Nasionale Instituut vir Aansteeklike Siektes te kontak op hul hulplyn by 0800029999. Talle vrae sal gevra word, waarna hulle die persoon sal laat weet wie hom sal kom toets vir die virus. Dit is om te voorkom dat mediese personeel nie ook aansteek nie.
•Mense wat voor die voet hulle laat toets en negatief toets, gaan vies wees as hulle later rekeninge kry, want die toets beloop tussen R1 200 en R1 400 en word nie deur die mediese fonds gedek, tensy die persoon positief getoets is nie.
