VIDEO: Só lyk die mans wat honde vergiftig
Drie gifgooiers is op CCTV Videomateriaal vasgevang.

’n Gesin bied ’n R1 000 beloning aan vir enige inligting wat daartoe sal lei dat die skuldiges gearresteer word.
Op die videomateriaal, wat verlede Dinsdag in Verdoornstraat (Mineralia) opgeneem is, kan gesien word hoe drie persone net na 01:00 die nag aangestap kom, waarna die een boef teen die muur opklim, iets uit ’n sakkie haal en dit in die erf gooi.
Twee ure later keer hulle terug en as hulle sien daar is nog een van die honde wat blaf, gooi hulle nóg gif en later sommer die hele sak, in die rigting van die hond.
Die boewe klim in die erf, maar die huiseienaar word wakker en sit hulle agterna, waarna hulle oor die muur spring en die nag in verdwyn.
Hierdie gifgooiers het die afgelope twee weke talle honde laat vrek nadat hulle gif in erwe gegooi het.
Lees ook: Vyf honde in een nag vergiftig
•In die Middelburg Observer van 6 Maart is daar berig van ’n gesin (wat anoniem wil bly) se twee honde wat gif ingegee is in die vroeë oggendure op 5 Maart.
Die gesin het weens werksverpligtinge omstreeks 02:00 tuis gekom en ’n “doef” geluid gehoor soos iets wat val.
Hulle het dadelik op die kameras gekyk en gesien hoe twee persone van die huis af wegstap.

Kort daarna het hulle die foksterriër dood in die erf gekry. Hul Deense hond (Great Dane) het ook van die gif ingekry en hullehet dadelik vir hom rou eier gegee. Hulle moes hom egter ure later veearts toe vat, omdat hy baie siek geword het.
“Dit het ons R3 500 gekos om sy lewe te red, maar dit is die moeite werd, want hy is soos ’n kind in ons huis.”
•’n Paar dae later het hulle ’n Gemeenskapspolisiëringsforum vergadering bygewoon en het hulle ’n ander inwoner ontmoet, wat hulle meegedeel het dat sy honde net ’n bietjie later dieselfde oggend vergiftig is.
Hy het vir www.mobserver.co.za vertel dat sy hond tussen 05:00 en 07:00 vergiftig is.
•Dinsdag (10 Maart) het die groep beweeg na Verdoornstraat (Mineralia), waar hulle op die CCTV Videomateriaal vasgevang is.
Die eienaar sê hul Amerikaanse Staffordshire-bulterrier het gevrek, maar hulle kon die ander Staffordshire-bulterrier deurhaal.
Lees ook: Boesman, Jakkals en Slim laasnag vergiftig
•Vrydag, 13 Maart, het die boewe teruggekeer na die eerste huis in Aerorand Wes (waar hulle die vorige week die gif vir die foksterriër en Deense hond gevoer het).
Die vrou (wat anoniem wil bly) vertel dat sy en haar dogter alleen tuis was, want die mans het vanaf middernag saam met die GPF patrollie gery.
“My kind het om 00:45 ’n stem gehoor wat duidelik in haar droom vir haar sê: ‘Kyk!’ waarop sy opgekyk het na die kameras en die beweging in die erf gesien het.”
Sy het haar man en seun gebel, wat na die huis gejaag het, met ander lede van die GPF wat hulle vergesel het.
Met hul aankoms, het haar seun op die muur gespring en met sy verfbalgeweer losgebrand op die twee boewe, wat nog in die erf was. Die boosdoeners het egter oor die muur gespring en die nag in verdwyn.
Lees ook: Honde vergiftig: ‘Boewe wil hulle uit die pad kry vir inbrake’ waarsku GPF
•Dinsdag (gister) is daar drie honde in die vroeë oggendure in Jack Hindonstraat (Vaalbank) vergiftig. Die gesinne bly regoor mekaar.
’n Swart Labrador, Boesman, is by die Kies gesin vergiftig en twee kolliehonde, Jakkals en Skim, by die Calitz familie.
Almal is dit eens dat al die vergiftigings die afgelope tyd in die omgewing was waar daar motorfietse in die erwe was. Hulle is oortuig daarvan dat die honde stilgemaak is om later die motorfietse te gaan steel.
•Die afgelope vyf jaar is daar honderde honde in Middelburg vergiftig. Dit is egter ’n nasionale probleem dat duisende honde al vergiftig is tydens inbrake of diefstalle van motorfietse.
•As enige persoon die booswigte herken, bel die Middelburg Polisiestasie by 013 249 1600 en die inligting sal aan die ondersoekbeampte deurgegee word.
