Gesoekte sakeman gee hom oor na dubbele moord op Bethal
Francois Pretorius, die man wat deur die Bethal polisie gesoek word vir ’n dubbelmoord op ’n egpaar, is pas aan die polisie oorhandig.
Pretorius se skoonpa, ’n bekende boer van Belfast, mnr. Ernst van der Berg, het hom aan die polisie oorhandig.
Hy het pas vir www.mobserver.co.za laat weet dat hy vir Pretorius aan die polisie oorhandig het.
“Hy is besig om voor ’n landdros ’n bekentenis af te lê. Hy wil nie ’n verhoor of enigiets hê nie. Hy sê hy wil sy straf dra. Hy het gevra ek moet sy kinders grootmaak,” het mnr. Van der Berg gemeld.
Hy vertel dat Pretorius sy voertuig gelos het in Hatfield (Pretoria) en drie dae lank, N4 om, geloop het na sy plaas toe op Belfast.
“Francois is gejag soos ’n dier die afgelope tyd. Hy huil die hele tyd. Hy is so hartseer oor die egpaar se kinders.”
Mnr. Van der Berg wou nie meer inligting op hierdie stadium bekend maak nie.
*Die Bethal Hervormde Kerk se afgetrede leraar, dr. Hannes Beukes (70) en sy vrou, Ibel (67) se lyke is verlede Woensdag deur ’n motorfietsryer naby die Bethaldam gekry in die bagasiebak van hul voertuig. Hulle is beide vermoor.
*Pretorius was vir etlike maande (tot begin verlede jaar) die eienaar van Francois Pretorius Juweliers in Middelburg.
