Sekuriteit by hospitaal se skrikbewind
’n Paar dae nadat mnr. Johan Coetzee (66) erge beserings aan sy arms opgedoen het na ’n aanranding deur sekuriteitswagte by die Middelburg Hospitaal, is nóg ’n man aangerand.
Mnr. Coetzee het beweer dat hy die vorige Sondagaand erg deur sekuriteitswagte aangerand is toe hy na buite gestap het om te kyk waar sy vrou so lank draai. Sy het gesê sy gaan na hul seun se woonstel stap om nagklere vir hom te gaan haal.
Sy arms moes later verbind word weens diep wonde wat hy opgedoen het.
Mnr. André Malan (47) beweer dat ’n groep van byna 12 mans hom getakel het, terwyl hy by sy swanger dogter, wat aan die bloei gegaan het, in haar hospitaalkamer gestaan het.
“Ek het kalm vir hulle gesê ek wil net by haar staan totdat my vrou en haar vriendin terug is met die lêer, maar hulle het my aangerand, aan my hande en voete beetgekry en uitgesleep tot by my kar.”
Lees ook: Bejaarde deur sekuriteit aangerand
Sy dogter, Yolandi, is Saterdag deur haar vriendin, Erna Victor, Middelburg Hospitaal toe gejaag. Yolandi is 21 weke swanger. Hulle het mnr. Malan en sy vrou, Rina, laat weet dat hulle op pad is hospitaal toe.
Die egpaar het ook soontoe gejaag, want hulle het ’n lêer, met Yolandi se inligting daarop, by hulle.
By die kraamsaal is die twee vroue aangesê om vir Yolandi ’n lêer te gaan oopmaak. Mnr. Malan het by sy dogter agtergebly.
Hy het probeer om by ’n suster navraag te doen oor sy dogter se toestand, waarop ’n vroulike sekuriteitsbeampte skielik op hom begin skree het.
Sy het ander sekuritetswagte geroep, waarop ’n groep van ongeveer 12 mense op hom toegesak het.
“Een het my met die vuis op die mond geslaan en die ander het my van agter af betrek.”
Hy is aan sy arms en bene beetgekry en gesleep tot by die kar.
Lees ook: Vrou se bedsere vrot
“Die groep het my verskriklik gevloek. Ek kan nie die woorde herhaal wat gesê is nie, maar hulle het my ma onder haar klere ingevloek en ook gesê: f….k you, you white man.”
Yolandi het paniekerig geraak tydens die aanval en uit haar rolstoel gespring en na haar ma en vriendin gaan soek.
Me. Malan het probeer uitvind wat aan die gebeur is, maar sê sy is ook deur ’n sekuriteitswag gestamp. Me. Victor se negejarige seuntjie het agter haar inbeweeg sodat sy nie heeltemal haar ewewig verloor en val nie.
Mnr. Malan sê die polisie het wel uitgekom tot by die hospitaalhek, maar nie geluister na sy klagtes nie.
“Die polisieman het gesê ek moet hou by die gesondheidsdepartement se reëls oor die Koronavirus. Ek het niks verkeerd gedoen nie, net ek was by my dogter, ons was nie ’n klomp mense nie. En daar was geen rede waarom hulle my moes aanrand nie.”
Lees ook: Opvolg: Verslag wys skokkende wonde
•Yolandi vertel dat sekuriteitswagte omstreeks 03:00 Sondagoggend, kort nadat die suster haar bloeddruk kom neem en weg geloop het, haar in haar kamer kom intimideer het. Sy sê hulle het aggressief met haar gepraat oor die voorval met haar ouers. Volgens haar het hulle ook vir haar gesê: “You must f.. off here!”
•Die volgende oggend was me. Victor ooggetuie van ’n voorval by die hoofingang van die hek. Volgens haar het ’n persoon gestop met ’n bakkie om twee van sy werkers in te neem hospitaal toe.
Sy het gesien hoe die sekuriteitswagte aggressief vir hom sê hy kan nie inry nie en ook hoe hulle probeer om sy voertuigsleutels uit te ruk.
•Die voorvalle is onder die aandag van Dumisani Malamule (Provinsiale woordvoerder, Gesondheidsdepartement) se aandag gebring. Hy het op mnr. Coetzee se bewerings gesê dat hulle “nie kan maak asof dit nie gebeur het nie” en hul besonderhede gevra vir verdere ondersoek.
Hy het ook die Malans se kontakbesonderhede gevra en gesê dat hy reeds navraag gedoen het by die hoof uitvoerende beampte, mnr. Modise Maake, rakende die kwessie.
Meer stories oor die Middelburg Hospitaal:
Opvolg: Menseregtekommisie gryp in
Horror ordeal at Hospital – ‘They tied me to the bed’
Opvolg: Bets – die statige ouma skou
Vrou lankal dood – Verpleegster sê: ‘vital signs are good’
Lees hier oor ander klagtes teen die hospitaal.
