Dokter bevestig eerste geval van Covid 19 in Middelburg
’n Plaaslike dokter het pas bevestig dat ’n Middelburger positief vir die Covid 19 virus getoets het.

Dr. Nadine Jooste sê sy voel dit is haar etiese plig om inwoners in te lig dat die virus nou ook in Middelburg is.
Sy was een van talle dokters wat vandag gesien het hoe inwoners aangaan met normale inkopies en uitstappies in die dorp.
“Mense besef nie die erns hiervan nie!” het sy pas vir www.mobserver.co.za gesê.
“Dit is nie meer net in Italië, Gauteng en ander dorpe in Mpumalanga nie, dit is nou ook in Middelburg!”
Sy het ’n indringende beroep op die gemeenskap gedoen om tuis te bly en net uit te gaan indien dit dringend noodsaaklik is.
“Bly weg van ander mense af! Dit is nou die tyd om met jou familie te spandeer!”
Op haar Facebookplasing sê sy dat hulle as dokters nie die virus sal kan wen sonder die gemeenskap se samewerking nie.
Sy het ook gesê dat mense wat paniek saai met ondeurdagte boodskappe, eintlik die mense is wat die erns van die saak begin besef.
*Sy het op haar plasing genoem dat die kind van Laerskool Middelburg wel negatief getoets het.
