News

Middelburg nié in afsondering

Dit is besigheid, soos gewoonlik, en letterlik honderde Middelburgers het op hierdie eerste dag van die 21 dae afsondering hulle nie gesteur aan die afkondiging van die president nie.

Www.mobserver.co.za se joernaliste het kruis en dwars deur die dorp gery en tot dié skokkende gevolgtrekking gekom.

Boonop is ons nêrens deur polisie of weermaglede voorgekeer en vir enige dokumentasie gevra oor waarom ons op die pad was nie. Om die waarheid te sê niemand is voorgekeer nie, want nêrens was weermaglede of polisiemanne te sien nie.

Daar is duidelik nie ’n vrees dat die Covid 19 Virus in ons dorp sal versprei nie. Die volgende is waargeneem:

*’n Totaal van 85 haweloses het vanoggend by die Kees Taljaard Stadion gesit en wag vir iets te ete, nadat hulle gisteraand deur lede van die Gemeenskapspolisiëringsforum opgelaai is. Die GPF lede het tot 01:00 vanoggend haweloses en verslaafdes regdeur die dorp opgelaai, waaronder in die middedorp, op die treinspore en naby die kollege onder Brugstraat. ’n Man wat in ’n tentjie bly in die bos onderkant die hoeke van Brug- en Bonckerstraat het geweier om saam met hulle te gaan.

’n Ander geestesversteurde hawelose in Bonckerstraat wou ook nie in hul voertuie klim nie.

Weermagtente is by die stadion opgeslaan deur die brandweer en ondersteuning van die weermag, Steve Tshwete- en Nkangala Munisipaliteit en lede van die GPF.

Hierdie area is ingerig vir haweloses om hulle van die strate af te hou. Met die joernalis se aankoms, het hulle sommer in groepies by mekaar op die stadion gesit. Geen maskers of handskoene was in sig nie. Talle dwelmverslaafdes was reeds besig om onttrekkingsimptome te wys.

Me. Rehana Pilodia (voorsitter, Middelburg Gemeenskapspolisiëringsforum) het gisteraand gesê dat al die haweloses, verslaafdes en selfs prostitute in die dorp deur die aand tot een uur vanoggend opgelaai is en dan in die tente gehuisves word vir die tydperk van die afsondering. “As hulle binne is, mag hulle nie uit nie. Daar sal ’n wag geplaas word om te keer dat hulle nie uitgaan nie. Op hierdie manier kan die virus dan nie op straat versprei nie.”

Sy het gesê dat hulle in die oggende en aande gaan kos kry en dat ’n mobiele kliniek na hul gesondheidstoestand sal omsien.

Die haweloses het vanoggend egter by die joernalis en paar lede van die GPF wat daar was gekla dat daar nie toiletpapier in die badkamers is nie en dat hulle teen 09:00 nog nie kos gekry het nie. Elkeen het ’n boksie Magau gekry en hulle voel dit is nie genoeg nie.

Kort na 09:00 het die vyf GPF lede gevra dat die polisie moet uitkom, nadat ’n beroering op die stadion ’n aanduiding was dat die haweloses mekaar begin beroof het.

Een hawelose het na die hek, waar géén wag was nie, geloop en gesê dat hy nie daar gaan bly nie.

*Vandaar het die joernaliste die strate ingevaar en by besighede ingeloer. In die strate, veral in die middedorp by OR Tambostraat, was daar hordes mense wat by kitsbanke gestaan het om geld te trek. Tussen die sowat 80 mense wat gesien is in die dorp, was daar net drie wat maskers gedra het.

*Oral het mense in die strate afgestap, sonder maskers. In Kanonkop is ’n vrou gesien wat vir haar kind, wat saam met haar gestap het, ’n masker opgesit het, maar nie vir haarself nie.

*By drie vulstasies het die joggies motoriste sonder maskers gehelp.

*In 63 voertuie was daar meer as twee mense in voertuie, waarvan daar in twee voertuie maskers gesien is. In ’n taxi met ses mense, het nie die drywer óf die insittendes maskers gedra nie.

*By die twee kruidenierswinkels waar ingegaan is, het nie die personeel óf die kliënte maskers gedra nie en is daar selfs in groepies saam gesels.

Dit is duidelik dat ons gemeenskap nie die erns van die siekte, wat al duisende mense se lewens wêreldwyd geëis het, besef nie.

*Besighede het gisteraand omstreeks 21:00 ’n skrywe gekry dat daar nie verder sigarette verkoop mag word nie. Die meeste besighede het reeds hul sigarette van die rakke afgehaal.

In China spesifiek was die grootste dodetal onder mans wat rook.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button