Oud Middelburger sterf in ongeluk
’n Bekende oud-Middelburger, mnr. Ryan Pretorius, het gistermiddag in ’n ongeluk by Nelspruit gesterf.

Sy vriend, Johan Kruger, het pas vir www.mobserver.co.za gesê dat hy en Ryan sy ouers, Roy en Natalie Pretorius, nog nie al die inligting en omstandighede rondom die ongeluk het nie.
Die Middelburg Observer se susterskoerant, die Laevelder, het op hul webtuiste gesê dat die bakkie ’n brugreeling getref het op die R40 in die rigting van Nelspruit, vanaf Riverside.
Die voertuig het na benede gestort waar dit ’n lugklep getref het bo op ’n 600mm waterpyp naby die Mbombela Skougronde.
Mnr. Kruger sê dat ’n vriendin van Ryan, Sonel, saam in die voertuig was en dat sy na ’n hospitaal in die omgewing afgevoer is.
Hy het verder genoem dat sy vriend wel ’n permit gehad het om te werk, maar dat hy gister klaarblyklik gaan kruideniersware koop het en op pad was huis toe, toe die ongeluk gebeur het.
Daar is op hierdie stadium nog geen begrafnisreëlings getref nie.
•Mnr. Pretorius was ’n oudleerling van Hoërskool Middelburg. Hy het die afgelope sowat twee jaar op Nelspruit gebly.
