News

Vernon Barnard deel traumatiese tyd tydens aanval op gesin

The Voice-sanger, Vernon Barnard, se pa, ook Vernon, het die traumatiese gebeure toe hulle op 30 Maart 19 jaar gelede by hulle huis oorval is, op sosiale media gedeel.

“Op 30 Maart 2001, vandag presies 19 jaar terug is ons deur ’n gewapende roof by ons vorige huis in die Strand. Daardie jare was dit nog iets vreemds, deesdae ’n algemene verskynsel.

Ek het op hierdie pragtige Vrydagogend die agterdeur se veiligheidshek oopgemaak om ons hondjie uit te laat. Die volgende oomblik het ek ’n geluid gehoor en toe ek omdraai, het ek in twee vuurwapenlope vasgekyk. Toe besef ek, hier is groot moeilikheid.

Charl was vier jaar oud en Vernon sewe. So baie gaan deur ’n mens se kop. Vernon was op Worcester gewees en elke Vrydag moes ons hom optel by Virgin Active in Durbanville oorkant die Tygervallei Sentrum. Wat as hulle ons lewens sou neem en die busdiens laai ons blinde seun af en ons is nie daar nie, wat dan? Die bussie kon nie wag nie, ons moes daar wees. Dis die tipe gedagtes wat deur ’n mens se kop geflits het.

Vernon Barnard (senior).

Hulle het ons baie styf vasgemaak met my dasse, eers individueel en toe aan mekaar. Charl was ook hande agter die rug vasgemaak op ons bed. Nadat hulle baie klere, juweliersware, kontant, my jagmes en vuurwapen uit my kluis geneem het, het hulle met alles in my BMW 316i weggejaag, my droomkar daardie tyd, en dit afgeskryf by Sandvlei, naby Macassar. Tog het hulle weggekom.

Hulle het onder andere my kop toegegooi en wanneer hulle voor my tot stilstand gekom het, het ek gedink nou is dit tickets. Gelukkig het hulle niks fisies aan ons gedoen nie. Die Liewe Heer het dit goedgedink om ons lewens te spaar.

Min wetend die impak wat dit op ons as familie sou hê. Gelukkig kon ek vir Charl losbyt, wat op sy beurt weer ons kon loskry. Deel van sy terapie was dat hy die hero was omrede hy ons kon bevry het. Tog moet ons sterk wees as familie en aangaan.

As iemand my vra hoe kry ons dit reg om te cope, dan sê ek, as ek rondom my kyk sien ek baie mense wat deur baie erger dinge gaan as wat ons deurgemaak het, nie dat dit ons situasie makliker maak nie. Ons het geleer om dankbaar te wees vir dit wat ons wel het.

Tog gebeur alles met ’n doel alhoewel dit nie noodwendig sin maak nie. Ek/ons het geleer om net vorentoe te kyk en elke dag voluit te leef.

Ons is bevoorreg om ons twee seuns by ons te hê in hierdie moeilike tyd van afsondering. Ons dink aan die families wat nie bymekaar kan wees nie, die wat alleen is, die hawelose mense, mense in die ouetehuise. Ons weet nie wat voorlê nie, hoe moeilik dit gaan wees nie, maar waar daar hoop is, is daar ’n weg. Trust God irrespective.

Wees veilig en leef naby God. Hy bly in beheer.”

•Die Barnard gesin was voorheen geliefde inwoners van Middelburg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button