Niemand weet nie.
Wie sou kon dink dat die land tot stilstand sou knars?
Nie in ons wildste drome nie.
Daar was in 1994 vrese dat Suid-Afrika in anargie sou verval, toe ’n nuwe regering aan bewind gekom het.
Daar was bomme en dreigemente.
Daar was ’n regse inval in Bophuthatswana.
Mense het op groot skaal blikkieskos aangekoop en ’n groep regses het na die berge gevlug in Kranspoort.
Daar het hulle ’n nuwe afgesonderde lewe begin.
Die verkiesing het gekom en gegaan.
Toe ons een oggend opstaan was daar ’n ANC regering aan bewind.
Die “vyand” teen wie daar net nou die dag geveg is.
Die son het weer geskyn.
Suid-Afrikaners het met hulle lewe voortgegaan soos gister en eergister.
Toe kom die draai van die eeu, die millennium.
Die Y2K virus het die land laat bewe.
Daar was vrese dat geld uit bankrekeninge sou verdwyn en rekenaarstelsels in duie sou stort.
Weer is koskaste vol gemaak en gewag vir die einde.
Die draai van die eeu het gekom en gegaan en die son het weer geskyn, sonder enige virusprobleme.
Nou sit ons in die jaar 2020.
Koronavirus het die wêreld getref.
Maar hierdie keer is dit ’n dodelike aanslag op die mensdom en sterf daar daagliks honderde mense.
Middelburg is nog gespaar – dank Vader.
Die invloed is vernietigend – die geldwaarde wat verlore is, kan nie bepaal word nie.
Miljoene rande is weg.
Een sakeman sê binne twee ure het hy R1 miljoen verloor na kansellasies by sy besigheid.
Dit raak elkeen en dit gaan waarskynlik nog vir lank.
Ons is saam in dit.
Dat die meerderheid saamstaan om die aanslag te oorwin, is prysenswaardig.
Daar is nog sommige wat nie die erns besef nie.
Middelburgers was nog altyd innoverend, kreatief en daar is ’n samehorigheid onder ons.
Dankie tog daarvoor.
Ons gaan nie na die berge vlug nie.
Ons gaan saam veg teen die virusaanslag.
Ons gaan weer opstaan.
Ons gaan op ons knieë wees en bid dat die bloed van Jesus ons dorp sal beskerm.
