Hoe lank nog voor eerste koronapasiënt?
Hoe lank nog voor die koronavirus Middelburgers begin plattrek?
“Die virus is hier, of daar een of 10 is, in die provinsie, hy is hier,” het dr. John Welsh (Ongevalle dokter, Life Midmed Hospitaal, Middok 24/7) gesê.
Die afgelope week was ’n warboel van emosies en inligting vir elke inwoner. Eers het ’n dokter op Facebook die bom laat bars dat Middelburg sy eerste positiewe Covid-19 pasiënt het.
Daarna was die boodskap dat mense darem moet weet dat die pasiënt positief in eMalahleni getoets is. Sy werk in eMalahleni en bly in die week in Middelburg, maar haar eintlike huis is in Johannesburg. Dit is duidelik gestel dat sy terug is Johannesburg toe en daar onder kwarantyn is by haar huis.
Lees ook: Life Midmed Hospital armed to the teeth for Covid-19
Dr. Welsh het Maandag vir twee joernaliste van www.mobserver.co.za gewys hoe toegerus die Life Midmed Hospitaal is vir die koronavirus. ’n Mens kry tog ’n bietjie gemoedsrus as jy sien hoe goed ingerig ons hospitaal se isolasie afdeling is, sou plaaslike inwoners wel die virus opdoen en ernstig siek word.
Die hele hospitaal, van die bestuur, tot by die dokters, verpleegpersoneel en ander werkers, het vir ses weke onverpoos gewerk om hierdie eenheid gereed te kry. Sr. Mariska van Niekerk is die eenheidsbestuurder van dié afdeling.
Personeel word al vir twee weke lank herhaaldelik opgelei hoe om die pandemie te hanteer.
Net kritiek siek pasiënte, soos as jy asemnood het en positief getoets is, gaan egter na hierdie isolasie-eenheid geneem word. Alle ander pasiënte sal onder tuis-isolasie geplaas word.
Hy het genoem dat daar drie apteke in Middelburg is wat vir pasiënte wat onder kwarantyn geplaas is weens die virus, medikasie by hul huise sal aflewer.
Dr. Welsh sê daar is tans allerhande stories oor die koronavirus en hy sê mense word deurmekaar gemaak met al die inligting.
Daar is basiese dinge wat mense moet onthou.
•Hulle dokters en verpleegpersoneel sal nie die pandemie kan hanteer, as mense nie luister nie.
Hy voel as die mense steeds met hierdie houding aangaan dat hulle kan maak soos hulle wil, dit ernstige gevolge gaan hê.
“Wat dink jy gaan gebeur as duisende skielik die virus kry? Daar is net 30 yskaste vir lyke in Middelburg. Waarheen sal jy gaan met al die oorledenes as mense baie siek word en begin sterf, soos wat tans in Italië gebeur?”
Lees ook: ‘Hou veilige afstand van mense af’ – Ongevalle dokter
•Hy is nie ’n voorstander van maskers nie, aangesien dit jou nie vrywaar van die virus nie, maar hy beveel dit beslis vir siek mense aan, sodat hulle nie die virus versprei nie. “Maar dan moet jy in elk geval by jou huis bly!”
•Dokters dra net maskers en handskoene as hulle met pasiënte werk. Hulle volg die hele tyd die basiese primêre gesondheidsorg reëls.
•In die geval waar mense wel moet werk of dringende kruideniersware of medikasie (let op die dringend) moet koop, vra hy dat die basiese veiligheidsmaatreëls toegepas moet word: “hou jou twee meter afstand van mense, hoes in jou elmboog in ’n snesie en gooi hom weg en was jou hande gereeld!”
•Hy sê die virus word nie in die lug versprei nie. “Hy het nie vlerkies nie. As jy twee meter weg is van die persoon naby jou, is jy veilig!”
•Hy is van mening dat mense wat handskoene dra, maar kan ophou daarmee. “Was net jou hande! Die handskoene is baie meer onhigiënies!”
•Dr. Welsh het basiese statistieke genoem, wat halstarrige mense na moet oplet. “As jy kyk na Spanje, was die infeksiekoers net ’n paar dae vantevore 72 000, Sondagaand was dit 78 000. ’n Mens se brein kan jouself dit nie indink hoe vinnig dit versprei nie.
•Die hele wêreld se infrastruktuur is nie toegerus vir ’n pandemie soos die korona nie. “Daar is géén organisasie in die wêreld wat dit sal kan hanteer as die sisteem oorweldig word nie.”
Hy het geluister na ’n praatjie van ’n dokter in New York wat werk by ’n hospitaal met 1 200 beddens.
“Hulle het 1 200 koronapasiënte! Dis ál wat hulle nou doen. Voorheen het hulle long-, hart-, nier- en selfs gesigoorplantings gedoen. Nou kan hulle nie.
•Dr. Welsh sê dat mense moet onthou dat daar steeds mense met ander siektes en noodgevalle soos ongelukke hospitaal toe gaan kom en dat hulle, net soos die koronapasiënte, die beste mediese sorg kan verwag.
•Tydens die onderhoud het hy aanhoudend gepleit by mense om tuis te bly in hierdie afsonderingstyd.
•Daar word daagliks ’n kort video op www.mobserver.co.za geplaas waarin die dokters en ander hospitaalpersoneel mense daaraan herinner om tuis te bly en die basiese reëls te volg om die verspreiding van die virus te voorkom.