Leraar wat vermoor is, was moordenaar se beste vriend
Helikopters, honde en hommeltuie het verlede Dinsdag help soek na die voortvlugtende Francois Pretorius.
Mnr. Pretorius het hom gaan oorgee aan sy skoonma se man, mnr. Ernst van der Berg, op sy plaas by Wonderfontein verlede Woensdag.
Dit nadat hy die vorige dag deur boere en die polisie gejag is.
Mnr. Van der Berg hom later self aan die polisie oorhandig.
Pretorius het intussen ’n bekentenis afgelê en ook uitwysings by sy huis gedoen.
“Hy het my alles vertel wat gebeur het. Hy het hulle doodgeslaan. Hy het net geknak. Hy wou hê die Here moes help. Toe verloor hy dit toe sy vriend en sy vrou daar aankom. Hy het hulle nie doodgemaak oor juwele nie.”
Die afgetrede leraarspaar van die Bethal Hervormde Kerk, dr. Hannes (70) en Ibel Beukes (69) se lyke is op 18 Maart in hul kar se kattebak deur ’n motorfietsryer naby die Bethaldam gekry.

“’n Mens lees van hierdie goed in koerante, soos die Griekwastad moord, en mens wonder hoe iemand so iets kan doen.”
Die laaste twee weke speel soos ’n nagmerrie voor hom af en vertel hy gedetailleerd van die gebeure, terugspelend van die dag op die plaas af, waar hy met sy wapen vir Pretorius geskree het: “gaan lê!” en Pretorius vir hom gesê het: “skiet my dood oom, ek is moeg.”
Mnr. Van der Berg onthou hoe hy na die moorde vir die polisie Pretorius se huis moes gaan oopsluit het. Dan die daaropvolgende skok toe hulle die aand luminol in die kombuis spuit en die vertrek opgehelder het. ’n Aanduiding dat daar bloed was.
Lees ook: Gesoekte sakeman gee homself oor na dubbele moord op Bethal
Dit was duidelik dat die leraarspaar daar in Pretorius se huis, net buite Bethal (op die Trichardtpad) vermoor is.
“In die dag kon ons nie eers ’n bloedspatseltjie op ’n koppie kry nie.”
Pretorius het erken dat hy hulle in hul eie voertuig se kattebak gelaai het, nadat hy hulle vermoor het. Van die dam af het hy geloop na die juwelierswinkel en toe huis toe gestap.
Tuis het hy die kombuis van hoek tot kant met jik geskrop. “Ek moes later die koppies stukkend gooi waar die polisie die luminol gespuit het, want dit is giftig.”
Na die moorde het die Bethalse polisie dadelik met ’n intensiewe ondersoek begin en binne ’n kort bestek was Pretorius se naam bo aan die verdagtelys.
Die spoor is vinnig gekry.
Mnr. Van der Berg sê hulle het die Beukes-egpaar se huis oopgebreek en op sy kalender in die studeerkamer gesien dat hy die betrokke dag huisbesoek by ’n paar mense se huise sou gaan doen.
’n Paar van hulle het erken dat die egpaar daar was en Pretorius ook. Hy het vir die polisie vertel dat hy en dr. Beukes vriende was en ook saam met skape boer (wat alreeds ’n leuen was, aangesien die skape al lankal aan mnr. Van der Berg verkoop is).
Toe die polisie by die volgende gesin kom, het hulle gesê die leraarspaar het nooit opgedaag nie en het hulle dadelik teruggekeer na Pretorius se huis, maar hy het reeds met sy voertuig gevlug.
’n Grootskaalse soektog is begin.
Verlede Dinsdag het ’n werker vir mnr. Van der Berg laat weet dat Pretorius op die plaas op ’n disselboom van ’n tapkar sit.
Mnr. Van der Berg, wat op daardie stadium op Bethal by die polisie was, het dadelik boere in die omgewing laat weet dat hulle moet uitgaan na sy plaas toe en Pretoruis dophou, tot die polisie opdaag.
“Hulle het hom met verkykers dopgehou, terwyl die polisie ’n helikopter en die honde gestuur het.”
Met die polisie se aankoms, was Pretorius skoonveld en is daar tot donker na hom gesoek.
Mnr. Van der Berg het die aand ook hommeltuie met infrarooi kameras vanaf Carolina laat kom, wat hulle die lug in gestuur het, wat deurnag gesoek het, maar hulle kon hom nie opspoor nie.
Lees ook: Gesoekte Francois Pretorius was juwelier op Middelburg
Teen ligdag, omstreeks 05:30 het die sekuriteitswag ook gery.
Kort daarna het ’n werker van mnr. Van der Berg gebel en gesê hy sien vir Pretorius by die deur staan.
Mnr. Van der Berg het sy wapen gevat, al die binnedeure gesluit en die deur oopgepluk.
“Hy het voor my gestaan met ’n kombers, wat hy ’n gat ingesny het, wat hy in my melkstal gekry het, om sy skouers. Ek het geskree: ‘gaan lê!’ waarop hy op die grond gaan lê en gesê het ek moet hom maar skiet.”
Mnr. Van der Berg sê dat Pretorius erg gehawend gelyk het en net vir water en iets te ete gevra het.
“Hy het gesê vandat hy die egpaar doodgemaak het, kon hy nie eet nie.”
Mnr. Van der Berg het die polisie laat weet dat Pretorius by hom is en het hulle hom by die Alzu Petroport ontmoet en vir Pretorius gearresteer.
“Terwyl ons vir die polisie gewag het, het ek hom gevra: ‘Fransie, wat het jy gedoen?”
Pretorius het hom vertel dat die egpaar by sy huis was met huisbesoek. Hy en dr. Beukes was beste vriende.
“Na dr. Beukes se aftrede het hy by Francois geleer om juwele te maak. Dr. Beukes het gereeld saam met hom Middelburg toe gegaan en daar gewerk toe hy nog die juwelierswinkel daar gehad het. Hulle het ook saam met skape geboer.”
Finansieel het dit egter nie goed gegaan nie en sê mnr. Van der Berg dat Pretorius en sy gesin later bykans alles verloor het.
“Nadat hy gesnap het en besef het wat hy gedoen het, het hy gery tot in Hatfield. Van daar af het hy drie dae lank geloop plaas toe.”
Pretorius het hom vertel dat hy gesien hoe die boere opdaag. Hy het deur ’n spruit en mielieland gehardloop, waar hy onder gras geskuil het. “Hy het die hele dag daar gelê.” Met die hommeltuie se aankoms die nag, het hy in die sojaboonland geskuil.
Die volgende oggend het hy in die melkstal gewag tot die sekuriteitswag weg is en huis toe geloop.
•Mnr. Van der Berg sê dat Pretorius hom gevra het om na sy familie om te sien. “Hulle het niks. Hulle bly nou by ons op die plaas. Ek het hulle klaar hiernatoe getrek.”
•Pretorius het verlede Vrydag in die hof verskyn en die saak is uitgestel na ’n latere datum.
