Vasgekeer op eiland paradys
’n Vroue vlieënier in Middelburg probeer naarstigtelik om haar vluginstrukteur en meer as 10 ander Suid- Afrikaanse vlieëniers, wat tans in Maldives vasgekeer is, terug by die huis te kry.
Emmerentia van der Merwe het verlede jaar haar ligtevliegtuig lisensie gekry. Sy is een van min vroue op die dorp wat die mylpaal bereik het.
Haar destydse vluginstrukteur, Rudolf Lubbe, se lot het haar tot aksie laat oorgaan. Sy doen ’n dringende beroep op enigiemand wat daartoe instaat is, om finansieel by te dra, sodat mnr. Lubbe en ander Suid-Afrikaners kan huistoe kom.
Mnr. Lubbe, wat voorheen in Pretoria gewoon het, werk as vlieënier in Maldives. Hy het via ’n WhatsApp video-oproep met www.mobserver.co.za gepraat.
Mnr. Lubbe sê dat hy nou al vir 11 maande vir ’n maatskappy werk wat vakansiegangers van die Velana Internasionale Lughawe na die magdom kleiner eilande toe vervoer met seevliegtuie. Hulle het daagliks tussen 4 000 tot 5 000 mense vervoer.
Lees ook: 13 US citizens at high risk of Coronavirus being treated in Nabraska
Met die koronavirus pandemie het dinge in die vakansie-mekka, wat nou hul piekseisoen sou beleef, tot ’n stilstand gedwing. Twee of drie vlugte wat wel plaasvind, is hoofsaaklik om vakansiegangers van ander eilande na die hoofeiland, Hulhulé, te vervoer. Daar was geen vlugte vir ’n dag nie.
Mnr. Lubbe sê dat sy woonstel nog tot die einde van die maand betaal is maar dat dit onduidelik is waar hy dan gaan bly as hy steeds op die eiland vasgekeer is. Die maatskappy het mnr. Lubbe in kennis gestel dat hulle eers oor drie maande uitsluitsel sal kan gee oor die pad vorentoe.
Mnr. Lubbe sê dat hy ’n vliegtuigkaartjie bespreek het vir 24 Maart, reeds voor president Cyril Ramaphosa die inperkingsperiode in Suid- Afrika aangekondig het.
Hy is egter op die lughawe meegedeel deur Ethiad Airways dat alle vlugte gestaak is en dat hulle nou hoofsaaklik vlieg om hul eie landsburgers in die buiteland te gaan oplaai.
Hy en meer as 40 ander Suid-Afrikaners was in kontak met die Suid-Afrikaanse regering, wat hul toestemming gegee het om terug te kom huistoe, maar wat dit duidelik gemaak het dat hulle geen finansiële bystand sal lewer nie.
Lees ook: “Captain, bring me whisky” – spirited plea from virus cruise prisoner
Die Maldives regering het ’n vliegtuig aan die Suid-Afrikaners beskikbaar gestel, maar die vliegtuig gaan hulle sowat R2 miljoen uit die sak jaag. Uit die groep van meer 40, is daar reeds sommige Suid-Afrikaners wat sê dat hulle dit nie kan bekostig om by te dra tot die planne, om by die huis te kom nie. Ander sê dat hulle nie die kwarantyngeriewe in Suid-Afrika vertrou nie en eerder in die Maldives sal wag en kyk wat gebeur.
Baie in die groep het reeds kostes aangegaan vir hul vlugkaartjies, waarvan die vlugte intussen gekanselleer is, maar waarvoor hulle nie hul geld teruggekry het nie.
Sowat 30 Suid-Afrikaners, waarvan die helfte in Maldives gewerk het en die ander vakansiegangers is, het hand in eie sak gesteek en kon R1,7 miljoen bymekaar maak.
’n Groep van 10 landsburgers van Mauritius, wat ook graag wou huistoe gaan, sou help dra aan die kostes mits die Mauritius regering toestemming gee dat die vliegtuig daar land om hul af te laai.
Dit het nooit gebeur nie.
Dit laat die groep Suid-Afrikaners nou met ’n R300 000 tekort en ook met ’n probleem omdat ’n direkte vlug, sonder om êrens brandstof in te gooi, nie van die Maldives tot in Suid-Afrika moontlik is nie.
Die vliegtuig was ook net op die 6de April tot hul beskikking, omdat die Maldives regering al hul vliegtuie gebruik om hul eie landsburgers van elders af huistoe te bring.
Mnr. Lubbe sê dat die Suid-Afrikaanse konsulaat aangedui het dat hulle op Reunion sal kan stop vir brandstof. Die Maldives regering kan eers weer op 13 April ’n vliegtuig beskikbaar stel.
Hulle sal ook twee stelle bemanningslede moet beskikbaar stel omdat die bemanningslede vir die vlug Suid Afrika toe sal moet rus. Maar as hulle van die vliegtuig afklim moet hulle hier vir 14 dae in kwarantyn wees.
Albei spanne bemanningslede moet wel as hulle terug in die Maldives is, vir twee weke in kwarantyn moet verkeer.
Die Suid-Afrikaners skarrel nou om die oorblywende fondse betyds in te samel.
Lees ook: Japan quarantines 3,500 on cruise ship
Mnr. Lubbe sê dat hulle so dringend wil huistoe kom, omdat dit baie duur uitwerk om daar aan te bly. Al vra vakansie-oorde die vasgekeerdes die goedkoopste prys moontlik, werk dit steeds op ’n paar honderd dollar per dag uit.
Hy sê ook dat die eilandbewoners en werkers by die oorde al hoe meer geïrriteerd raak met die buitelanders. Hy sê dat dit hoofsaaklik is omdat ’n hele eiland vir 14 dae in kwarantyn geplaas word, sodra die laaste besoeker weg is. Elke keer wat daar vasgekeerde vakansiegangers op die hoofeiland aankom, word die kwarantyntydperk uitgestel.
Mnr. Lubbe vertel ook dat die eilande hoofsaaklik van invoere afhanklik is vir meeste kos en ander middele. Hy sê dat hy reeds nie sekere produkte soos suiker, te koop kon kry nie.
“Hier is nie koeie nie, so goed soos melk en vleis word ingevoer. Selfs goed soos tandepasta kom per skip hier aan. As jy in die winkels stap kom jy agter dat al hoe meer produkte nie beskikbaar is nie.”
Mnr. Lubbe sê dat mense wat wil bydra dit op die volgende manier kan doen:
Bydraes kan in die besigheidsrekening van sy pa, Rudie Lubbe, ’n regsadviseur, inbetaal word. Gebruik die verwysing Maldives en jou naam. Stuur ook jou besonderhede aan me. Van der Merwe by +27 82 410 9464 sodat sy skenkers later kan bedank, op hoogte kan hou van hoe die fondse gebruik word of later te kontak indien die fondse nie aangewend kan word nie.
Die rekeningbesonderhede is:
Legalsure
Absa Bank
909 997 8550.
