Gebruik nou die tyd sinvol
Almal wat tuis moet bly, het nou die geleentheid om tyd sinvol te gebruik.
Dit is die gevoel van Annemarie Alberts.
“My ma het ’n gesegde gehad: ‘old age is God’s finishing School’. As mense nie nou hierdie tyd gebruik van ‘God’s finishing school’ nie, gaan hulle baie spyt wees. Hulle het die kans gekry, hulle moet dit benut.”
Sy ervaar die tyd van afsondering tot nou baie positief. “Ons leer so baie van onsself.”
Dit is vir haar ’n spesiale tyd, want sy kry nou die geleentheid om tot twee ure stiltetyd per dag te hou. “Ons kry nou die tyd om ons voor te berei vir die Ewige Lewe.”
Sy sê hierdie afsonderingstyd gee elke persoon wat skade gely het na die haelstorm, nou ook genoeg tyd om alles reg en skoon te maak.
Me. Alberts sê elke persoon kan nou tot die besef kom wat sy doel op die aarde is.

Hulle het kort voor die afkondiging van die afsonderingstyd tuis gekom en is die Donderdag net gou in dorp toe om ’n paar noodsaaklike “besig hou” goedjies te kry, soos leesstof en artikels om handewerk te doen. “Ons het ook meer as genoeg musiek in die huis.”
Sy voel egter dat hierdie afsonderingstyd mense gaan leer om met minder klaar te kom.
Me. Alberts sê dat mense respek vir mekaar en vir die lewe moet hê in hierdie tyd.
Haar hart gaan uit na die mense wat die kern van die ekonomie aan die gang moet hou. “Ons bid vir hulle veiligheid.”
•Hein Koch sê dis met ’n vol hart dat hy in hierdie tyd besef waarvoor ’n mens alles dankbaar kan wees.
“Ek besef net hoe bevoorreg ons is. Ons het ’n huis en erf waarin ons kan beweeg. Wat van die arme mense wat in woonstelle bly en dié in plakkerskampe waar tot 10 mense in ’n klein gehuggie moet bly. Ons het water en krag, hoeveel daarbuite het dit nie!”

•Past. Jannie Jacobs (Oorwinnaars Halfweghuis vir dwelmverslaafde mans) sê dat dit baie goed gaan by die Oorwinnaarshuis.
“Ek gaan in elk geval net so een keer in twee weke in dorp toe. Die afsonderingstyd is nie vir ons vreemd nie.”
Hulle doen intensief Bybelstudie en luister na Christelike DVD’s.”
“Ons is so dankbaar, want kort voor die afsonderingstyd het ’n persoon ’n ruim finansiële skenking gemaak en ons kon alles wat ons nodig het koop vir hierdie tyd.”
Hy het ook dankie gesê vir die boer wat daagliks melk by die hek aflewer en Blue Ribbon wat hulle van brood voorsien.
