Geen bevestigde gevalle in Middelburg
Teen Woensdagoggend 8 April om 11:20 was daar nog geen bevestigde gevalle van Covid-19 in Middelburg nie.

Dit is deur dr. Redge van Rensburg bevestig na ’n doktersvergadering wat Dinsdagaand plaasgevind het. Daar is wel een geval wat op die regeringslys onder
Middelburg genoem word, maar dit is ’n vrou wat eintlik in Gauteng woon en in die week hier gebly het vir werksdoeleindes. Nadat sy positief getoets het, is sy terug na haar huis in Gauteng.
Daar is wel ’n toename in mense wat getoets word met een plaaslike laboratorium wat sowat 13 toetse per dag doen. Die wagtydperk vir resultate by privaat laboratoriums is ook nie meer so lank soos vroeër nie en het verkort van vyf tot ses dae.
Een van die uitdagings wat dokters in die gesig staar, is om mense te oortuig om nie onnodig te toets nie.
Dr. Van Rensburg het inwoners die versekering gegee dat hulle dit onmiddellik openbaar sal maak as daar ’n positiewe geval in Middelburg is. Dit te midde sommige inwoners se mening dat dokters positiewe gevalle geheim hou om te verhoed dat dit paniek saai.
Resultate van toetse word nie na die labratorium wat dit getoets het teruggestuur nie, maar na die dokter wat dit aangevra het. Ten spyte hiervan is plaaslike dokters deeglik bewus daarvan dat hul positiewe gevalle so gou moontlik moet aanmeld.
“Daar is geen nut daarin vir ons dit stil te hou nie,” sê dr. Van Rensburg.
