News

Die dors raak erg – drankdief hol eers toe skoot klap

’n Oorlamse drankdief wat rustig in ’n erf rondgestap het, het eers spoed gekry toe daar ’n waarskuwingskoot geskiet is.

“Hy was só gemaklik, het op en af in die erf gestap, terwyl die lig op hom skyn. Eers toe ek ’n skoot skiet, het hy weggehardloop,” vertel mnr. Nico Venter van die gebeure vanoggend by sy huis in OR Tambostraat (Middedorp).

Hy was vol lof vir senior reaksie-offisier, Peter Jacobusen (van Mid Alarms), wat binne minute die dief agterna gesit en ál die drank teruggekry het.

Die dief het al van 03:00 af probeer om toegang tot die kuierarea te kry, want die alarm het afgegaan en mnr. Venter het na buite gekyk, maar hy kon niks sien nie.
Omstreeks 04:30 het die alarm ’n tweede keer afgegaan en het mnr. Venter die man gesien waar hy op en af loop onder die buitelig.

Mnr. Venter het teen die venster geklop en op hom geskree, waarop hy gevlug het.

Nie eers ’n uur later nie, het die alarm wéér afgegaan en het mnr. Venter gesien die kuierarea se deur staan oop.

Mid Alarms is weer ontbied en hy het ’n waarskuwingskoot geskiet, maar die boef het in die rigting van Buitekantstraat verdwyn.
Reaksie-offisier Jacobusen was blitsig daar en het die dief agterna gesit in riete waar die pad doodloop.

Dit was een te veel vir die drankdief en hy het die streepsak vol drankbottels neergesmyt en laat spaander.
Mnr. Jacobusen het die streepsak opgetel en aan mnr. Venter teruggegee.

“Nie eers één van die bottels het gebreek nie. Ek wil baie dankie sê vir die lid van Mid Alarms wat so vinnig en paraat opgetree het.”

•Die dief het ’n paar bottels wyn, asook brandewyn en whiskey in die sak gegooi.

•Hy het toegang tot die kuierarea gekry deur ’n deur oop te forseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button