Ekonomiese impak astronomies
Nog nooit in die Kamer van Koophandel en Nywerheid se 117 jaar bestaan was die oragnisasie so belangrik vir sy lede, en nie-lede, wat almal vinnig krisisreëlings moes tref, vir hul besighede se behoud.
Die kamer se uitvoerende direkteur, me. Anna-Marth Ott, sê dat hulle nog voor die afkondiging van algehele afsondering reeds omvattende inligting, hoofsaaklik rondom noodsaaklike-dienste en permitte om dié dienste te kan verskaf, op hul aanlyn platforms soos die kamer se eie webblad en sy Facebookblad, opgelaai het.
Die Kamer van Koophandel en Nywerheid en sy toerisme sentrum is gesluit.
Personeel is op kantoor en beantwoord honderde telefoniese navrae, en navrae wat gerig word op hul aanlyn platforms.
“Ons bly pro-aktief om die ekonomie te beskerm, soos met die haelstorm toe hardewarewinkels skielik moes oopmaak, het ons hande gevat met die regering en polisie om nie net sekere winkels oop te maak nie, maar ander weer toe te laat om aflewerings te doen,” sê me. Ott.
Vir lede is daar ’n SMS-stelsel wat hulle deurlopend van regulasies in kennis hou.
Belangrike inligting oor besigheidsbystand en regeringsbystand in die toerismebedryf, word ook deurlopend op die kamer se webwerf en sosialenetwerke geplaas.
Me. Ott se hulle is oorval met navrae oor aansoeke vir besigheidspermitte en dat alle inligting oor wie kwalifiseer as noodsaaklikedienste, en watter permitte om te verkry, ook op hul webwerwe beskikbaar is.
“Oor hoeveel navrae hulle gekry het, het sy geantwoord, “baie, baie, baie”.
Daar is ’n 24-uur bystandspersoon wat op die kamer van koophandel en nywerheid se bystand selfoon bereik kan word.
Me. Ott se dat hulle verskeie buitelanders by die toerisme sentrum gehad het voor die landwye afsondering Vrydag begin het.
“Mens besef nie hoeveel buitelandse toeriste eintlik in die dorp aandoen nie, gewoonlik is hulle op pad na die laeveld en wildtuin en doen dan hier aan,” verduidelik sy.
“Ons versprei inligting van ambassades, soos die Duitse ambassade aan sy burgers,” sê me. Ott.
Die toerisme bedryf is stil gedurende die afsonderingstydperk met oorde soos De Voetpadkloof, Loskopdam en Pienaardam, wat toe is vir die publiek.
“Ons sal eers weet wat die ware impak op ons toerisme en besighede gehad het na die 21 dae van afsondering, maar die ekonomiese impak is astronomies,” sê me. Ott.
“Skakel ons. Bly tuis! Ons is daar om enige navrae te hanteer, maar vra dat inwoners, besighede en diegene wat werk, by die reëls en regulasies sal hou om die Covid-19 pandemie in die kiem te smoor, en so te verseker dat ons nie verdere terugslae in die besigheidsektor en toerismebedryf ervaar met verdere aankondigings van afsondering nie,” sê me. Ott.
