News

Ramshorings basuin die Lofprysing in Paastyd uit

Presies 18:03 Woensdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) het Middelburgers saam met die res van die wêreld die begin van Paasfees aangekondig deur op ramshorings te blaas.

Daarna het hulle luid die woord: “Jesus!” uitgeroep. Me. Marise de Wet vertel trots dat haar hele gesin, haar man, Johan, asook al vier haar seuns, Marco (12), Drikus (10), Hanré (7) en Juwan (5), deel hiervan uitgemaak het.

Alhoewel Juwan nie lekker die klanke kon uitkry nie, het hy probeer. “Talle van ons selgroepvriende het die ramshoring geblaas en selfs my suster het in Langkloof op die plaas ’n ramshoring daar geblaas.”

Die gesin blaas elke aand die ramshoring tydens die “Lofprysing in Lockdown” musiektye, maar gisteraand het hulle met die Paasfeesaankondiging dit bietjie vroeër gedoen. Hul groot ramshoring, ’n koedoehoring, wat van hul familieplaas af kom, het hulle al baie jare.

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/115869/jesus-se-soldaatjie-tot-kanada-gehoor/

“Johan het op YouTube gaan kyk presies hoe die ramshoring geblaas moet word.”

Waarom ’n ramshoring?

Die NG Kerk, Kanonkop gemeente, het tydens hul Kerssangdiens verlede jaar, ook twee ramshorings geblaas voor die diens begin het. Dr. Casper Booy (leraar van die NG Kerk, Kanonkop) verduidelik waarvandaan dit kom:

Die ramshoring was een van Israel se musiekinstrumente wat hulle veral vir godsdienstige redes gebruik het. Die Jode blaas dit by godsdienstige feeste soos Nuwejaarsdag, die groot Versoendag en elke dag in hulle maand Elul.

Hy het voorbeelde aangehaal waar die ramshoring gebruik is:
•Die geluid is uit die wolke op Sinai gehoor en die volk het ontsag gekry (Exsodus 19).
•Dit is geblaas om nuwe maan aan te kondig (Psalm 81).
•Dit het die begin van die Jubeljaar aangekondig.
•Dit is geblaas by die begin van ’n oorlog. Wanneer die ramshoring op ’n heuwel geblaas is, kon almal hoor die oorlog begin. By Jerigo se val is op ramshorings geblaas.
•Op Nuwejaarsdag blaas hulle hom (Levitikus 23 en Numeri 29).
•Geblaas met optogte (2 Sameul 6 en 1 Kronieke 15).
•Partykeer is dit gewoon as musiekinstrument geblaas (Psalm 47 en 98).
•Dit is in die tempel saam met die trompet geblaas.
•Dit is op vasdae geblaas.
•Die ramshoring is by in die tempel geblaas.

“Dit is dus hoofsaaklik gebruik om iets aan te kondig en om die volk op te roep tot berou,” sê dr. Booy.

“Vir ons is daar nie magiese krag aan die ramshoring nie. Ek dink baie kerke gebruik dit omdat dit ’n Bybelse instrument was om iets aan te kondig en daar is Christene wat sê die ramshoring se blaas dui op die verwagting van die wederkoms.”

•Tydens die “Lofprysing in Lockdown” is die ramshoringgeluide gewoonlik aan die einde van die musiek gespeel, maar dit is nou verander dat dit gespeel word voor die musiek begin.

“Dit is ’n oproep tot geestelike oorlogvoering en die oproep en aankondiging van hierdie besondere feesviering. Dit is hoekom ons die ramshoring nou aan die begin laat speel,” sê me. Maryna Malan. Sy en haar man, Werner, het met die “Lofprysing in Lockdown” in Middelburg begin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button