Stilte…waar daar eers energie was
’n Somber atmosfeer hang oor vakansie-oorde en lodges sedert die landwye afsondering in werking getree het.
Die eens feestelike luim by Forever Loskopdam, De Voetpadkloof, Pienaardam en al die ander gasvryheidsbedrywe veral op die N11, is vir eers verby, met net enkele staflede en bestuur wat sedert afsondering agter gebly het vir basiese instandhouding.
Mnr. Gerrie Gerrits, Pienaardam se eienaar, sê dat verliese weens die landwye afsondering tot R7 miljoen die maand kan wees weens byeenkomste wat afgestel is, en die oord ook geen besoekers ontvang nie.
De Voetpadkloof het sy hekke vir die publiek gesluit, terwyl Loskopdam ook besoekers wegwys.
Vir mnr. Gerrits, wat beide Pienaardam en ’n wildsplaas in die Marble Hall distrik besit, sê dat hulle as gesin op Pienaardam afsonder, waar die atmosfeer ’n laagtepunt bereik het.
Slegs die boerdery gaan voort, hoewel die hael sy oeste weggeslaan het.
“Dis beproewing op beproewing, mens kan eenvoudig net bid, glo en vertrou, dat ons land hierdeur sal kom,” sê mnr. Gerrits.
Me. Monica van der Linde, wat naas Loskopdam sewe ander Forever lodges in die omgewing bestuur, sê dat die oord en dam doodstil is.
Enkele personeel is op die oord vir basiese instandhouding, terwyl die gerieflikheidswinkel vir sekere tye oopgemaak word vir die omgewing se inwoners, maar dat verkope ook doodstil is.
Die polisie het 13 chalets by Loskopdam bespreek, sodat lede nader aan die padblokkades kan wees, wat 24-uur beman moet word.
Hulle sal egter self afhanklik wees van maaltye omdat die restaurant en ander openbare geriewe gesluit is.
Die dorp se toerismesentrum het bevestig dat die toerismebedryf ’n moeilike tyd ingaan, met die landwye afsondering.
Die dorp en omliggende lodges en oorde het 1500 beddens beskikbaar, en teen ’n standaard R750 per nag, sal ’n lae geskatte R1.1 miljoen daagliks verlore gaan.
Ewige optimis, mnr. Koos Kleinsmith van De Voetpadkloof, sê “ons gaan aan, wat kan ons doen?”.
Ten spyte daarvan dat geen gaste op die oord is nie, werk beperkte personeel om die oord in stand te hou.
“Ons gemoedere is baie hoog, maar ons gedagtes bly steeds by ons mede-landsburgers,” sê mnr. Kleinsmith.
