News

Da vat hy! Talle wil witblits stook

Die land wil mampoer stook! ’n Sakeman se telefoon hou nie op lui nie, oor belangstelling in sy mampoerketels, nadat ’n ou video oor sy ketels skielik soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het. 

Anton Gilfillan van Zebra Braai en Central Melk, sê dat hy al lankal met die mampoerstook kultuur besig is. Hy het die kuns met die hulp van ’n vriend verfyn en by ’n kenner gaan aanklop om te leer presies hoe om die dop met skop te maak.

Die video van sy mampoerketels het hy twee jaar gelede al gemaak. Dinsdag het sy foon skielik begin lui.

“Met elke oproep wat ek antwoord is daar vyf missed calls as ek klaar gepraat het. Daar is honderde SMS’e en WhatsApps wat ook deurgekom het,” vertel mnr. Gilfillian.  Hy is oortuig dat die skielike belangstelling in sy mampoerketels te danke aan die grendelstaat is.

“Iemand het die video êrens raakgesien en gedeel. Dit is as gevolg van die lockdown wat mense nou by die huis sit en hulle self moet besig hou. Daar is ook nie drank te koop nie. Baie mense met wie ek praat sê vir my dat hulle oupa’s of iemand in hul familie lank terug mampoer gestook het. Dit is ’n deel van ons kultuur wat vergete gegaan het wat nou weer vlam vat,” sê hy.

Mnr. Gilfillan het oproepe van ’n professor in die Kaap, wynmakers en pynappelboere gekry. Piesangboere uit Mosambiek het hom gebel, hulle wil etanol stook met hul oortollige piesangs wat hulle dan weer vir handreiniger wil aanwend.

’n Man uit Namibië het gebel. Hy stook nou al gin met sy ketel. Mnr. Gilfillan sê dat hy tot uit die buiteland, van Nigerië tot die Kongo en Angola oproepe ontvang het. Meestal van Suid-Afrikaners wat daar bly.

Mnr. Gilfillan se mampoerketels word van vlekvrye staal gemaak en kos van R4 500 vir die kleinste tot R6 500 vir die 10 liter ketel.

Hy is tans besig is met pampoen en patat mampoer. Mampoerstook is ’n tydsame proses omdat die vrugte eers vir ’n week of twee moet gis voor jy dit kan afkook. Die alkoholinhoud van mampoer is volgens mnr. Gilfillan so 40 %. Hulle eksperimenteer met die mampoer deur dit met water te verdun en suiker en geursel by te gooi, om likeur te maak.

Hy waarsku dat mense moet onthou dat jy mampoer by jou huis mag stook vir eie gebruik, maar dat jy dit nie mag verkoop nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button