So sê ongevalle dokter John Welsh vanoggend nadat ’n werknemer van ongevalle positief vir die Koronavirus getoets is.
Hy voel mense moenie onnodig paniekerig wees of paniek saai nie.
“As jy simptome van ’n ernstige siekte het soos byvoorbeeld beroerte of ’n hartaanval, gaan dadelik ongevalle toe! As jy te lank wag, maak jy groter skade!”
Dr. Welsh sê hulle het klaar hierdie week so ’n geval gehad waar ’n persoon wat borskaspyn gehad het, eers die volgende dag ongevalle toe gekom het, weens vrees vir die virus.
Hy het besluit om met www.mobserver.co.za te praat sodat die gemeenskap kan weet dat hulle alle veiligheidsprotokol volg, soos hulle al vir twee maande dit doen.
“Die persoon wat positief getoets is vir Covid-19 by ongevalle, het minimale kontak met die publiek gehad. Die persoon sit in ’n toe afskorting, agter glas en al kontak met die publiek was met ’n kaartmasjien. Die kaartmasjien word in elk geval voor en na elke kaarttransaksie ontsmet.”
Verder het hy gemeld dat al die personeel van die ongevalle afdeling gegaan het vir Covid-19 toetse en álmál negatief getoets het.
Pasiënte sal ook opmerk dat hulle hul veiligheidsmaatreëls nóg meer opgeskerp het.
Buiten dat hulle by ongevalle siftingstoetse doen (koors meet, vorms invul, hande ontsmet), is alle kommunikasie met die publiek by ontvangs agter skerms.
Personeel dra ook nie net hul gewone maskers nie, maar ook kopskerms en plastiek voorskote.
Verder is al die beddens steeds meer as twee meter van mekaar af weg en is daar géén kontak van pasiënte met mekaar nie.
“Persone wat moontlik die Koronavirus het, word in die spesiaal toegeruste Covid-19 Isolasie-afdeling hanteer. Sou ’n persoon wel by ongevalle inkom wat die virus onder lede het en dit nie weet nie (A-simptomaties), is die kanse skraal dat hy dit kan oordra aan ander pasiënte, weens die feit dat beddens so ver uitmekaar is en alle veiligheidsmaatreëls gevolg word.”
Wat hom omkrap, is dat mense onwaarhede versprei rakende die persoon wat positief in hul geledere getoets het.
“Hulle sê dat die persoon uit Middelburg uit was en die virus sodoende opgedoen het. Die persoon was nooit uit Middelburg uit nie en het die virus dus hier opgedoen!”
Volgens hom het die persoon nie eers gewerk (rusdae) toe die virus opgedoen is nie. “So die virus is iewers in die publiek, soos wat enige ander persoon dit kan opdoen, aangesteek.”
Hy voel daar kleef ’n stigma aan die Covid-19-virus wat heeltemal uit verband uit geruk word, omdat mense wat wel positief getoets word, behandel word asof hulle melaats is.
“Dit is ’n gemeenskaps oordraagbare virus en die hoeveelheid gevalle in Middelburg is minimaal as jy kyk na gebiede in Gauteng en die Kaap. Ja, die virus is in ons dorp en is aansteeklik, net soos dit wêreldwyd is en dit buitengewone omstandighede is, maar mense moenie paranoïes raak nie.”
Dr. Welsh het genoem dat 46% van pasiënte wat postief vir die virus getoets is, A-simptomaties is, wat beteken dat hulle géén simptome gewys het nie.
Hy sê daar word selfs bespiegel dat 70% van die bevolking A-simptomaties is, wat beteken dat hulle waarskynlik die virus onder lede het, maar dit nie eers weet nie, omdat hulle nie siek word nie. Dit is juis hulle wat hierdie virus so maklik oordra.
Alhoewel dit ’n pandemie is wat die hele wêreld raak, sê dr. Welsh dat die risiko’s van griep en nou ook die Covid-19 virus, dieselfde is as enige ander jare. Veral nou in die Wintertyd.
“Ons is nié onverskillig nie, maar ons kan nie die virus weghou nie. Mense moenie bang wees nie, hulle moet egter wel versigtig wees en hou by al die voorsorgmaatreëls. Kom ongevalle toe as jy ’n dokter dringend nodig het, moenie wegbly omdat jy bang is vir die virus nie! Ons eenheid is veilig!”
•Die basiese veiligheidsmaatreëls wat gevolg moet word, ken almal al soos ’n rympie. Was en ontsmet jou hande gereeld, hou sosiale afstand, dra jou masker en vermy om aan jou gesig te vat.
