Dief weg met bejaardes se pensioengeld
’n Handsakdief het ’n bejaarde egpaar se pensioengeld gesteel.
“Dit het al op 4 Junie gebeur, maar ons het nog nie sover gekom om al ons kaarte te gaan verander nie. Hy is weg met ons hele inkomste, R4 000, wat ek net daardie oggend getrek het,” het me. Sannie Boshoff (72), gesê.
Sy en haar man, Adam (72), is die oggend dorp toe om geld te trek, hul water en ligte rekening te betaal en gou by een of twee winkels in te hardloop.
Hulle kon nie naby die banke en besighede in die Sentrale Sakegebied ’n parkering kry nie en het hy by ’n vulstasie in Cowen Ntulistraat gestop.
Me. Boshoff het met ’n paar rand in haar sak uitgespring en oor die pad geloop.
“Adam vergeet nooit om die deure te sluit nie, maar daardie dag het hy. Die dief het die deur oopgepluk, my handsak gegryp en begin hardloop.”
Mnr. Boshoff het hom probeer agterna sit, maar besef dis vrugteloos.
“Ek het nog net R600 in die bank gehad en het dit vir die munisipaliteit aangebied vir die water en ligte. Ons het niks anders gehad nie. ’n Mens is so magteloos.”
Die hartseer ten spyt, is hulle baie dankbaar vir hul vriende by Rivierpark Woonstelle, asook ander mense wat vir hulle sedert die diefstal kos aangedra het.
•Me. Boshoff vra dat as enigiemand moontlik hul kaarte opgetel het, om haar te bel by 078 387 6109. Op haar kaarte is sy nog SME van Tonder (hulle is onlangs getroud) en mnr. Boshoff se voorletter op sy kaarte is A.
“Weens die grendelstaat kon ons nog nie ons kaarte vervang nie en dit is tog so baie werk om in daardie lang toue te gaan staan.”
