News

Lugtyd bedrieër probeer Hospice indoen

Die nou reeds bekende lugtydbedrieër het sy geluk beproef met die Hospicevereniging.

Sr. Judy Toüa (Bestuurder, Middelburg Hospice) sê die man, wat homself Kobus genoem het, het haar gebel.

Die opvangs was baie swak, maar sy kon uitmaak dat hy R5 000 wil skenk vir die Hospicevereniging. Sy het al sy besonderhede neergeskryf en gevra of hy die geld elektronies gaan oorbetaal.

Hy het gesê dat hy die geld in kontant by hom het en dat sy dit by hom op die plaas “Spitskop” op die Stoffbergpad moet kom haal.
Sy het kriewelrig gevoel en haar seun, Ruan, gevra of hy nie wil saamry nie.

Lees ook: Jou lugtyd help ‘n tronkvoël dwelms koop

“Kobus” het ’n paar keer gebel en gevra wanneer hulle gaan kom, want hy is nog net ’n klein rukkie op die plaas.

Die oomblik toe hy vra of hulle nie vir hom R500 lugtyd wil kry nie, het hulle besef hy is ’n bedrieër. Ruan het hom daaroor aangevat, waarop hy die gesprek beëindig het.

Sr. Toüa wil graag al die ander organisasies maan om nie vir die man se slimpraatjies te val nie.

• Die nommer waarvandaan hy gebel het, is 082 231 6850.

• Middelburg Dros het Donderdag op Facebook ander besighede gewaarsku oor ’n persoon wat homself “Herman” noem, wat ’n groot bestelling geplaas het. Toe hy in dieselfde asem vir R250 lugtyd vra, het hulle besef hy is ’n lugtydboef.

• Jitters Restaurant het op die Facebookboodskap kommentaar gelewer en gesê dat dieselfde persoon hulle ook gekontak het. Daar was ook ander persone wat gesê het dat die lugtydboef hulle onlangs in Lichtenburg en Dullstroom om die bos probeer lei het.

Lees ook: Talle geteiken deur lugtyddief

• Die lugtydbedrieërs het al aan elke moontlike storie gedink om groot bedrae lugtyd uit mense te kul. Van gratis vleis, tot kontant of selfs afsprake met besigheidslui was as deel van die storie.

Die persoon moet na die “plaas” kom vir die werk of “skenking” en net voor hulle ry, vra hy vir lugtyd wat saamgebring moet word vir hom of sy vrou.

Die lugtydboef is gewoonlik só oortuigend dat sy slagoffer niksvermoedend die lugtydkode vir hom oor die foon lees of dit vir hom SMS. Natuurlik bestaan die plaas nie. Slagoffers verloor gewoonlik tussen R250 en R700.

•Tydens ’n ondersoek ’n paar jaar terug deur National Crime Assist (NCA), is van die lugtydboewe se spoor tot by tronke gevolg.

Hierdie boewe dien gewoonlik lewenslange vonnisse uit. Dit is egter duidelik dat hulle hulp van buite het om teikens te identifiseer. Met sosiale media soos Facebook en WhatsApp groepe, is dit baie maklik om ook teikens te identifiseer.

Lugtyd wat deur die slenter bekom word, word weer as middel om handel te dryf gebruik om vir goedere soos geld, sigarette of dwelms te ruil in die tronk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button