NewsSchoolsSport

Tegnies los Pumas, speel sy rugby by Blou Bulle

Skool kondig aan dat hy nuwe hoofstuk begin en bou aan iets besonders

In ’n skokbesluit het HTS Witbank besluit om volgende jaar in die Blou Bulle-rugbyliga te speel.

Die skool sê: “Vir die eerste keer in die geskiedenis gaan ’n skool van Mpumalanga aan die Blou Bulleliga deelneem. ’n Nuwe hoofstuk in die geskiedenis van HTS Witbank-rugby.

Vanaf 2027 sal die blou van HTS Witbank met trots langs die blou van die Bulle staan. Ons bou aan iets besonders. Ons daag bestaande standaarde uit, skep nuwe geleenthede vir ons spelers en plaas HTS Witbank-rugby stewig op die kaart. 2027 is die begin van ’n nuwe era en ’n volgende vlak!”

“Hokaai eers”

Maar die uitvoerende hoof van die Mpumalanga Rugbyunie, Marius Janse van Rensburg sê “hokaai eers”.
Janse van Rensburg het by navraag uit Nelspruit gesê hy het eers daarvan gehoor toe hy verlede week terug by die werk was.
“Die aangeleentheid is glad nie deur die Mpumalanga Rugbyunie goedgekeur nie en ons was ook nie daarvan bewus nie.”

Volgens die voorsitter van die Mpumalanga-hoërskolerugbyvereniging, Piet Bothma van Steelcrest High School op Middelburg, gaan die aangeleentheid weer volgende week by die Noordvaalvereniging se vergadering bespreek word.
Die Mpumalanga-hoërskolevereniging het egter reeds aangedui dat hy nie so stap sal teenstaan nie.

HTS Witbank sal steeds geaffilieer wees by die Mpumalanga Hoërskolevereniging en sy spelers sal ook vir die Pumaspanne gekies kan word.
Bothma sê HTS Witbank gaan net in die Blou Bulle se liga meeding.

Kostes voorgehou

Alhoewel kostes voorgehou word vir die besluit, is die Middelburg Observer bewus van groot ongelukkigheid by HTS Witbank die laaste klompie jare, omdat verskeie van eMahlaleni se leerlinge op Middelburg skoolgaan en daar selfs ’n bus is wat tussen die dorpe ry om leerlinge te vervoer.
Bewerings soos “ons spelers word deur skole van Middelburg gesteel”, is al gemaak.

Die besluit word nie oral verwelkom nie en ’n WhatsApp is deur ’n oud- HTS Witbank-leerling aangestuur, waarin hy sê “geluk aan julle wat toegelaat het dat HTS Witbank volgende jaar by die Blou Bulle ingedeel is. Wat ’n skande vir die toekoms van ons jong rugbyspelers.”

Die president van die Blou Bulle Rugbyunie, Willem Strauss, sê hy is vanoggend deur Janse van Rensburg oor die aangeleentheid geskakel.
“Dit is ’n besluit wat die Mpumalanga Hoërskolevereniging geneem het, maar dit kan ’n presedent skep. Ek sou dit nie toegelaat het nie.”

  • Daar is ook sedert vanoggend 11 keer na HTS Witbank gebel vir kommentaar, maar oproepe bly onbeantwoord.
  • Die skool se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button