News

Saggeaarde juffrou Nellie groet Laerskool Middelburg

Nellie de Lacey Lacey moes die dag voor die grendelstaat begin het al haar Koedoekoppies by Laerskool Middelburg groet.

Vir 44 jaar het sy leerlinge help voorberei vir die lewe en het die trane vryelik geloop toe sy die personeel en leerlinge moes groet.
In haar herinneringsblomtuin is daar soveel spesiale “blomme” wat sy onthou.

Haar eerste dag as groentjie onderwyseres was in 1976.

Me. De Lacey Lacey was 16 en ’n half jaar by die SPO-klas en dis veral daar waar sy as mens gegroei het. “Ek het so baie liefde, begrip en empatie by hierdie kindertjies geleer.”

“Ek was ook bevoorreg om saam met drie wonderlike hoofde te werk, mnre. Seef van Eeden, Gert van Zyl en nou mnr. Gerrie van der Merwe. Hulle het my op hul hande gedra.”

Die personeellede en ouers het soos haar familie geword en elke kind deur haar hande, het soos haar eie gevoel.

Dit is juis hulle wat in haar eie hartseer toe haar kind, Stuart, 10 jaar gelede gesterf het, haar hande hoog gehou en haar deur die smart gedra het. Die skool het ook vir haar ’n boom gegee met ’n plaatjie daarby en is dit met ’n spesiale onthou as sy elke dag na die pragtige boom in haar tuin kyk.

Om ’n onderwyseres te wees, verg baie geduld en liefde. Haar besondere sagte manier waarop sy kinders, ouers en mede-personeel hanteer het, sal almal onthou.

“My pa het altyd vir my gesê: ‘my kind, as jy kwaad is, haal diep asem, want as die woorde uit is, kan jy dit nie weer terugkry nie.” En het haar sagte woorde, talle kere die grimmigheid afgeweer.

Sy mis klaar die taai kinderhandjies wat so graag vir juffrou ook aan die lekkers wil laat proe. Die gereelde blommetjies op haar tafel, die geselsies met ouers en personeel. “Ons was één groot familie en hoe groet jy só vinnig jou hele familie.”

Sodra die grendelstaat heeltemal verby is wil sy graag op ’n lekker lang vakansie gaan saam met haar man, Lyle. “Hy was my grootste ondersteuning al die jare, want hy het my toegelaat om my passie uit te leef. Ons gaan die meeste maak van ons goue jare saam.”

•Alhoewel die grendelstaat alles omver gegooi het, het die skool steeds op ’n baie spesiale manier afskeid geneem van me. De Lacey Lacey. Sy is bederf met ballonne, geel rose en baie drukkies van beide personeel en leerlinge.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button