Graad sewe leerder by Laerskool Middelburg toets positief vir Covid-19
’n Graad sewe leerling van Laerskool Middelburg, wat géén simptome getoon het vir die Covid-19 virus nie, is gister in kennis gestel dat sy positief getoets het.

Mnr. Gerrie van der Merwe (hoof) het in ’n omsendbrief aan ouers gesê dat die leerling gisteroggend positief vir die virus getoets het.
Hy het aan www.mobserver.co.za gesê dat die leerling nie gister by die skool was nie en die ouers laat weet het dat die toets positief was.
Die dogter (wie se naam weerhou word, omdat sy minderjarig is) se ma sê hulle is gisteroggend tydens opname vir ’n klein ortodontiese operasie in kennis gestel dat sy positief getoets het.
Beide die ma en dogter is Donderdag getoets, omdat die ma die dogter na die hospitaal sou vergesel. Die ma se toets was negatief.
Intussen het die Departement van Gesondheid hulle besoek en is die hele gesin, beide ouers en ’n jonger kind, onder selfkwarantyn geplaas.
Die ma sê dat haar man se werk hulle Maandag weer vir die virus getoets het en dat die toetse teen more sal uitkom.
“Ek weet nie hoe lank sy dit onder lede gehad het nie, maar sy het tot nou toe nog geen simptome gewys nie.”
Mnr. Van der Merwe het bevestig dat die leerling verlede week ook geen simptome by die skool gehad het nie.
Lees ook: Laerskool Middelburg parent, residing in Johannesburg, tests positive for Covid-19
“Die temperatuurlesings wat ons verlede week van die leerling geneem het was almal normaal.”
Hy sê dat die skool, nadat hulle verneem het dat die leerling positief getoets is, gister selfs sover gegaan het om op die kameras te kyk of daar enige kontak met ander leerlinge was.
“Daar was geen fisiese kontak nie en almal het hul maskers gedra.”
Hy het in die omsendbrief die ouers verseker dat hulle die korrekte prosedures gevolg het, soos aan hulle voorgeskryf deur die wet en in die skool se protokol uiteengesit.
“Ons eerste prioriteit is ons leerders en personeel se veiligheid en dit is ononderhandelbaar. Die Departement van Gesondheid is dadelik gekontak en na ’n deeglike ondersoek wat geloods is, is daar bevind dat daar geen onmiddellike fisiese kontak was tussen die leerder en ander leerders nie.”
Lees ook: Kinders maak wawiele van blydskap toe skole open
Daar is gesê dat die kringbestuurder, asook die Departement van Gesondheid die nodige aanbevelings gemaak het ten opsigte van nodige prosedures en optredes.
Die skool is intussen weer deeglik ontsmet.
“Elke stoel en tafel is afgewas en vloere is gemop met saniteerders.” Mnr. Van der Merwe sê dat selfs die brandweer Maandag wéér die skool kom ontsmet het.
Die skool gaan dus voort soos normaal.
Mnr. Van der Merwe het in die omsendbrief gemeld dat die skool veilig verklaar is en versoek dat ouers hul kinders sal dophou vir simptome. Daar is ook gevra dat ouers nie kinders moet skooltoe stuur wat siek is nie.
“Verder wil ons vra dat ons sal hande vat in hierdie moeilike tyd en dat ons onsself sal weerhou om op sosiale media te bespiegel oor die aangeleentheid. Indien u oor enigiets twyfel, moet u asseblief die skool kontak om met enige van die bestuurspan te kommunikeer.”
