Wees gewaarsku! Mans probeer vrou helder oordag kaap
’n Jong man was ooggetuie toe booswigte ’n vrou wou kaap.
Mnr. Ruan Lubbe vertel dat hy omstreeks 11:50 afgery het in Lilian Ngoyistraat (Kanonkop, Middelburg) dorp se kant toe.
Tussen die Springbok afdraai en die bruggie het ’n vrou in ’n Toyota Etios voor hom gery.
Die volgende oomblik het alles baie vinnig gebeur.
’n Wit ou model Jetta het dood voor haar gestop en sy, asook mnr. Lubbe, agter haar, moes noodgedwone remme aanslaan.
Drie mans het uit die Jetta gespring en op die Etios afgehardloop. Die bestuurder van die Jetta het intussen dwars oor die pad gestop om haar voertuig te blok.
“Die vrou kon egter om hulle ry en het weggery, waarop hulle teruggehardloop het na hul Jetta en weggetrek het.”
Mnr. Lubbe het hulle agterna gesit en ’n jaagtog het gevolg.
Die Jetta het links gedraai in Joubertstraat, daarna regs in Klip- tot bo in Cowen Ntulistraat, waar hulle weer links gedraai het. Mnr. Lubbe was warm op hul spoor.
By die verkeerslig in Meyerstraat het hulle egter oor ’n geel lig gejaag, na links gedraai en moes mnr. Lubbe weens die verkeer noodgedwonge stop.
Hy het in die omgewing rondgesoek, maar die Jetta was skoonveld.
Mnr. Lubbe is tans by die polisiestasie waar hy die voorval sal aanmeld.
• Die registrasienommer van die Jetta is volgens mnr. Lubbe HCK791MP.
