As Chilliboy maar net van mieliepap geweet het
As Chilliboy Ralephele maar net geweet het dat mieliepap, kaas en bovril, al die bestanddele bevat wat ’n super sportman nodig het, sou hy nooit verbode middels gebruik het nie.

Maar nouja, Chilliboy, wat vir agt jaar geskors is weens die gebruik van die verbode middel, zeranol, het seker nie geweet van die krag in mieliepap nie.
Chilliboy het nooit Die Brandwag gelees nie, want die tydskrif het, soos Rooi Rose, gesneuwel voordat hy gebore. En toe Huisgenoot in die sewentigerjare gewemel het van koskrag advertensies, het hy nog nie sy eerste lewenslig aanskou nie.
Die twee tydskrifte wemel van advertensies wat die lof besing van kos waarvoor vandag se tieners hulle neuse sal optrek.
Ou tydskrifte en boeke word gereeld by die redaksiekantoor afgelewer, met ’n nota: “julle sal iets daarmee kan doen”.
Toe Etta Vosges twee bokse vol ou tydskrifte afgee, het sy seker nooit besef watter skatkis dit is nie.
In ’n volblad Huisgenoot advertensie van 1970 tref die reuse opskrif jou: “Jy kan g’n krieketheld grootmaak sonder mieliepap nie!”.
Wanneer pa klaar die advertensie gelees het sou hy dalk vir Jannie ’n bord mieliepap gaan opskep het:
“Pa koester groot ideale vir sy seun. Hy’s mos pa se seun!
“Maar dis Ma wat hom moet grootmaak. Wat moet sorg dat hy genoeg groeikos en kragkos kry. Mieliepap! Want so ’n bulletjie het baie baie energie nodig. Daardie energie wat die son in die mielie sit.
Son en aarde maak die mielie stampvol stamina, en dis daar – in ’n stewige stomende bord mieliepap.
“Van toeka se dae af het mieliepap murg in stoere Suid-Afrikaners se pype gesit. Dis ’n nasionale instelling. Net soos stywepap of krummelpap saam met braaivleis.
“Sonder energie is ’n mens ’n nul op die krieketveld. Sorg dat pa se seun energie het om hom die hele dag aan die gang te hou. Mieliepap. Die natuur se kragkos. Die ene energie.
“Mielies sit pit in pap. Mieliepap sit pit in jou. ”
“Ma, het die kinders vanoggend hul mieliepap gehad?”
Maar dis nog niks! Bovril gee nie net energie nie, maar ook vleiskrag.
In ’n Huisgenoot van 14 Mei 1969 rank ’n slot hoog in ’n lynstaan en dan vra ’n ou met ’n mikrofoon vir hom: “En hoekom drink jy bovril?”
Die lynstaanspringer antwoord: “Dit gee jou vleiskrag, ou bees. Spierkrag en gô. Bou gesonde rooi bloed. Staan opsy, dis werk vir bulle, hierdie onder 15-rugby”.
Kaas se voordele word in ’n volblad berig besing. “Teen langspeeltyd is die kleinspan al skreeuhonger. Dan wil hulle iets vastiger te byt hê – genoeg gesonder energie om die res van die skoodag te hou. Pak krag in die kosblik – sit kaas in. Dis ’n happie – dis ’n ete. Kaas bevat byna tweemaal soveel voedingswaarde as enige ander kossoort.”
Van die resepte wat gepubliseer word is “kaasstrooitjies”, kaas- en vlapastei en kaas-botterkoekies.
En as die bovril, die kaas én die mieliepap, nie gehelp het nie, was daar melk: “Melk gee jou lekker sterk spiere. Melk verfris, ontspan, bevredig. Wys jou dors wie is baas (hulle het darem nou nie bygevoeg ‘jou rowwe bliksem’ nie). Versamel elke dag krag met ’n glas koue melk”.
Om in ’n spiertier te verander was maklik, volgens Die Brandwag van 21 September 1962:
“Begeer jy manlike breë skouers, sterk arms, ’n groot borskas, ’n pragtige breë rug, ’n slanke middel of kragtige bene?” Al wat jy moes doen is om ’n koepon te voltooi en dit te stuur aan Krag en Gesondheid Internasionaal.
Wanneer die pap, die bovril, die kaas én die melk, nie werk nie, was daar altyd De Witt se nier- en blaaspille. “Kry vandag De Witt pille en sien hoe jy elke dag gesonder en fikser word”.
