Kansvatters kan nie meer kos bedel en verkoop nie
Kansvatters wat kospakkies by verskillende organisasies bedel en dit dan verkoop, se dae is getel.

’n Databasis is geïmplimenteer om ’n stokkie daarvoor te steek.
“Dit maak ons taak baie makliker, want nou is daar nie meer oorvleueling nie,” het me. Rozllin Cousins (van Almal Help Almal Vlerke) hierdie week gesê.
Die databasis word gehou by die Feed A Child Organisasie.
Sodra ’n familie vra vir ’n kospakkie, dan word hul besonderhede ingevoer en kan kansvatters, wat oral kospakkies gaan haal en dit verkoop, se planne kortgeknip word.
Me. Judy van Deventer (Feed A Child) sê hierdie stelsel het tot gevolg dat baie méér mense gehelp kan word. Met die databasis weet hulle ook presies hoeveel persone in ’n gesin is en wat die nood is.

Op die stelsel word die volgende ingesleutel: die persoon se naam en van, identiteitsnommer, datum wanneer pakkie ontvang word en of die persoon ’n Sassatoelae kry.
Sodra ’n persoon by ’n organisasie gaan vra vir ’n pakkie, word sy naam ingetik en sê die stelsel dadelik wanneer laas hy van kos of ander benodigdhede voorsien is.
Me. Van Deventer het die organisasies daaraan herinner om daagliks hul data op te dateer.
Daar is tans talle organisasies in ons dorp wat van haweloses tot dwelmverslaafdes en minderbevoorregte gesinne help.
Almal was dit eens dat hulle ’n groot behoefte het aan nie-bederfbare kos, vars groente en vleis, asook klerasie en komberse vir volwassenes en kinders. Van die organisasies soos die CMR, het gesê dat hulle ook artikels soos meubels vir mindergegoede gesinne benodig.

• Feed A Child Middelburg pak Maandae en Vrydae pakkies vir 390 mense, wat Dinsdae, Woensdae en Donderdae kom kos haal. Enige skenkings kan afgegee word by hul kantoor in Wesstraat 49 of bel me. Van Deventer by 082 802 4803.
• Die Mannaprojek, met me. Dawn van Baalen as voorsitter, ondersteun talle projekte, maar sukkel self om tans kop bo water te hou. Hulle is betrokke by projekte soos Laerskole Kanonkop en Dennesig se voedingskemas, die SAVF Maatskaplike Dienste. St Josephs Ouetehuis, die CMR Pleeghuis, Huis Njala (SAVF Maatskaplike Dienste), Nasaret Sopkombuis en die Have a Heart Foundation.
Persone wat hul projekte wil ondersteun, kan me, Van Baalen bel by 082 337 5902.

• Me. Tanja Gagiano het gedurende die grendelstaat, terwyl die skole toe was, met ’n hulpprojek begin waar sy minderbevoorregte kinders en hul families ondersteun, onder andere Laerskole Dennesig en Kanonkop, asook Hoërskool Kanonkop.
Sy en haar span het ook gesinne op plase gehelp. Sedert die grendelstaat effens gelig het, het sy die projekte aan ander persone oorhandig. “Ek wil net dankie sê vir almal wat gehelp en geskenk het.”
• Me. Lettie Viljoen van Wondershoek Kinderhawe sien nie net om na die kinders in haar sorg nie.
“As ek ’n skenking kry en dit is te veel, deel ek dit uit aan ander gesinne op plase en aan mense in die dorp. Op hierdie manier help ek ook ander en kan ek gee, omdat ek ontvang.”
Persone wat die Kinderhawe wil ondersteun, kan haar bel by 082 695 7534.
Daar is talle ander organisasie wat diegene in nood bystaan soos:
• Middelburg CMR: Nie bederfbare kos, komberse, klere, meubels. 013 282 7261.
• SAVF Maatskaplike Dienste: Gevriesde borde kos en nie-bederfbare kos. 013 282 4413.
• Rosebuds, ’n organisasie wat bedags omsien na bejaardes van Nasaret, Uitbreiding 24, Hlalamnandi en Rockdale. Met die grendelstaat is die sentrum toe en lewer me. Lucy Molapisi elke dag vir haar bejaardes hul kospakkies by hul huise af. Sy is beskikbaar by 073 105 2244.
• Die Middelburg Sopkombuis maak sop vir talle minderbevoorregte gesinne. Bel Chantal Esterhuizen by 082 650 6820.
• Die Mid Hartklop organisasies het tans 57 gesinne (volwassenes en kinders) wat by hulle kos kry. Hulle het ook ’n baba wat in die grendeltyd gebore is, wat hulle van alles moet voorsien.
Om hulle te ondersteun, bel Lizette de Bruin (voorsitter) by 082 676 9430 of Zillika Lötter (ondervoorsitter) by 082 560 7223.
• Almal Help Almal Vlerke gee nie net kospakkies uit nie, maar maak in die Wintermaande ook sop. Bel me. Rozllin Cousins by 076 966 9682.
• Kleine Engele is ’n organisasie wat baba- en kinderklere op ’n ruilprojek vir minderbevoorregte gesinne gee. Dit is deel van hul opheffingswerk dat die gesinne voel hulle gee ook iets terug.

Elke keer as hul kinders se klere te klein raak, gaan ruil hulle dit om vir ander wat pas. Persone wat klerasie of ander benodigdhede vir kinders wil skenk, bel 064 513 9644,
• Me. Janine Olivier is aan die stuur van sake by die Reason to Believe organisasie. Sy gee elke tweede dag vir 22 haweloses kos, wat haar ontmoet in ’n parkeerarea in Eastdene. Dan gee sy ook bykans daagliks brood vir die groep haweloses wat in die vervalle huis in Framestraat bly. Sy help ook sewe minderbevoorregte gesinne met kospakkies.
Persone wat haar wil ondersteun, kan haar bel by 082 646 9343.
• Me. Olga Smith sê dit gaan goed by Koppiestraat en sê hulle dankie vir die mense wat gereeld skenkings maak. Sy kan gekontak word by 076 522 2844.
• Greater Nkangala Rehab Centre in Mhluzi is ’n uitreik-organisasie vir dwelmverslaafde mans en vroue in Mhluzi. Bel past. Justice Phasha by 076 485 7263.
• Hope Corner, ’n rehabilitasiehuis vir inwonende dwelmverslaafde paartjies. Hulle reik ook uit na ander organisasies en het onlangs vir haweloses en verslaafdes wat op straat is, sop bedien en vir hulle gebid. Me. Ayesha Snyman is in beheer van die huis en persone wat hulle wil ondersteun kan haar bel by 082 905 3418.
• Oorwinnaars Halfweghuis vir dwelmverslaafde mans wat in die huis bly. Past. Jannie Jacobs hanteer al vir jare dié huis en kan gekontak word by 082 566 1862.
• Al die organisasies was dit eens dat hulle nie sou kon oorleef sonder die ondersteuning uit die Groter Middelburg gemeenskap nie.
