Departement van Gesondheid laat dogter weer toets
Die graad sewe dogter van Laerskool Middelburg wat positief getoets het vir die Covid-19 virus, het intussen twéé toetse ondergaan, wat albei negatief was.

Www.mobserver.co.za het vroeg verlede week berig ouers van die skool is deur middel van ’n omsendbrief deur die hoof, mnr. Gerrie van der Merwe, in kennis gestel is dat een van hul graad sewe leerlinge positief vir die virus getoets het.
Sy het géén simptome getoon nie en sou dit nie wees dat sy vir ’n ortodontiese operasie moes gaan nie, sou sy nooit vir Covid-19 getoets gewees het nie.
Die dogter en haar ma, wat haar na die Life Midmed Hospitaal sou vergesel vir die operasie, het beide gegaan vir die toets die vorige Donderdag.
Verlede Maandag, die dag wat sy opgeneem sou word, is sy in kennis gestel dat sy positief vir die virus getoets het. Die ma se toets was negatief.
Lees ook: Graad sewe leerder by Laerskool Middelburg toets positief vir Covid-19
Haar ma het vir www.mobserver.co.za gesê dat haar man se werk hulle alvier, die dogter, beide haar ouers en ’n jonger sussie, verlede Maandag wéér vir die virus laat toets het.
Die uitslae was almal negatief!
“Die Departement van Gesondheid wou nie hierdie toets aanvaar nie en het haar weer laat toets by ’n ander bloedbank. Gisteraand se uitslag was weer negatief.”
Die ma het aangedui dat sy haar dogter weer more (Dinsdag) skool toe gaan stuur, want die kinders gaan in elk geval elke tweede dag in afwisselende groepe skool toe.
• Die dogter het in die tyd wat sy klaarblyklik die virus onder lede gehad het, géén simptome daarvoor getoon nie.
• Nadat die skool verlede week verneem het dat die dogter positief vir die virus getoets het, het hulle dadelik op hul kameras gaan kyk of daar enige kontak met ander leerlinge was.
Daar was geen fisiese kontak nie en al die leerlinge en personeel het hul maskers gedra. Hulle het ook die leerling se rekords, soos wat tans verwag word met alle voorgeskrewe Covid-19 protokol, nagegaan en het sy geen simptome gehad nie. Haar temperatuur-toetsing was elke dag normaal.
Lees ook: HTS Middelburg leerling toets Covid-19 positief
In die omsendbrief is ouers verseker dat hulle die korrekte prosedures gevolg het, soos aan hulle voorgeskryf.
Hulle het die Departement van Gesondheid gekontak en na ’n deeglike ondersoek is daar bevind dat daar geen onmiddellike fisiese kontak was tussen die dogter en ander leerlinge nie.
Die kringbestuurder, asook die Departement van Gesondheid het die nodige aanbevelings gemaak ten opsigte van nodige prosedures en optredes.
Die skool is intussen weer deeglik skoongemaak deur tafels en stoele (daagliks) te ontsmet en selfs die brandweer is ingekry om die skool weer te ontsmet.
Laerskool Middelburg is veilig verklaar en ouers is versoek om hul kinders dop te hou vir simptome en nie kinders skooltoe te stuur wat siek is nie.
Beide die Departement van Gesondheid en die Departement van Onderwys het ook weer die skool besoek en was tevrede met die skool se optrede na die gebeure.
Mnr. Van der Merwe het vanoggend gesê dat hy baie bly is vir die dogter en haar gesin dat hulle negatief vir die virus getoets het.
Hy het ook aangedui dat hulle ook nie nog enige ander positiewe gevalle by die skool het nie.
