‘Mamma hier is ’n man in die huis!’
’n Inwoner het van benoude oomblikke vertel toe haar kinders haar helder oordag gebel het om te sê dat daar ’n vreemde man in hul huis is terwyl sy by die werk was.
Zelda du Preez sê haar seuns, 10 en 15 jaar oud, was alleen by die huis toe die jongste iets in die lapa hoor val het.
“Die lapa is aan die huis vasgebou,” verduidelik me. Du Preez. Die gesin bly in Groenkol.
Sy sê dat hul huis se alarm die laaste ruk kort-kort afgaan. Dit het so baie begin gebeur dat sy ’n paar dae gelede ’n kamera in hul voorerf laat installeer het omdat sy oortuig was dat iemand toegang tot die huis probeer kry.
Om en by 11:30 het haar kinders haar gebel met die nuus dat daar iemand in hul huis was. Sy het huistoe gejaag en haar kinders ongedeerd aangetref.
Nadat haar jongste iets hoor val het, het hy sy broer gaan roep. Ouboet, gewapen met ’n krieketkolf, het die vreemde man by hul braaier gekry en dadelik begin skree.
“Die man het vir hom gesê ‘Sorry, sorry’ en weggehardloop,” vertel me. Du Preez.
Sy sê dat haar seun die veiligheidshek tussen die lapa en die huis toegeslaan en die alarmmaatskappy se paniekknoppie gedruk het vir hulp. Die voorval is by die polisie aangemeld maar daar is nie ’n saak geopen nie.
