Gesteelde Polokwane taxi op plaas opgespoor
’n Gesteelde minibus taxi is Dinsdag op die plaas Rooikop in die Elandslaagte omgewing teruggevind.
Volgens ’n lid van die opsporingspan, wat nie sy naam genoem wou hê nie, het hulle die sein van die voertuig tot by ’n klomp huise op die plaas gevolg. Die voertuig is as gesteel aangemeld in Westernburg, Polokwane.
Die man sê dat die opsporingspan ongelukkig was om nie die bestuurder in die voertuig te kry nie, omdat die taxi sowat 10 minute voor hulle by dit kon uitkom, geparkeer is.
Daar was 17 persone, wat vermoedelik in die huise bly, op die toneel wat moontlike verdagtes kon wees. Hulle het almal beweer het dat hulle nie weet waar die bestuurder van die voertuig was nie.

Dit hang nou van die polisie se vermoë af om vingerafdrukke in die voertuig te neem en dit dan met een van die moontlike verdagtes te verbind of daar iemand aangekla gaan word.
’n Bron wat ook by die terugvind van die voertuig betrokke was, sê dat hy vermoed dat daar nog ’n storie agter die diefstal skuil, omdat hulle kon vasstel dat die wettige bestuurder van die taxi in Stoffberg gearresteer is en hom tans in polisieaanhouding bevind.
Daar word vermoed dat die regmatige eienaar van die taxi dit as gesteel aangemeld het, nadat hy nie die bestuurder kon opspoor nie. Dit is nie duidelik waarvoor die bestuurder aangekla word nie.
