Groot gevaar vir wegholbrande met komende koue, winderige naweek
Die Groter Middelburg Brandbeskermingsvereniging het ’n waarskuwing uitgereik dat die naweek se ongure weer ’n groot brandgevaar inhou.
Helgaardt Muller, voorsitter van die brandvereniging, het in ’n skrywe aan lede gesê dat die naweek se koue weer en die voorspelling van sterk wind, die risiko van wegholbrande drasties verhoog. Hy het grondeienaars gemaan om hul toerusting reg te kry, om hulp te verleen indien daar nood is.
Daar is dus ’n onmiddellike brandverbod uitgereik wat in werking is tot verdere kennisgewing.
• Dit beteken dat geen brandpermitte selfs vir voorbrande uitgereik sal word nie. Brandbane moet op ander maniere, soos om bane te dis met ’n trekker, gemaak word.
• Die maak van oop vure is ook verbode. Vure wat vir kosvoorbereiding gemaak word, mag net op veilige plekke gemaak word. Braailiefhebbers is gemaan om seker te maak dat kole heeltemal geblus is, voordat dit êrens uitgegooi word.
Mnr. Muller het versoek dat die publiek brande en erge rook dadelik aan die brandweer of brandberskermingsvereniging moet rapporteer. Hy het persone op patrollie gevra om op die uitkyk te wees vir moontlike brandstigting of kwaadwillige saakbeskadiging.
Hy het gewaarsku dat enige oortreding van wetgewing tot strafregtelike stappe kan lei. Selfs mense wat nie bewus is dat hulle die wet oortree nie, sal nie oorgesien word nie.
Mnr. Muller het grondeienaars gevra om mekaar te help, sonder enige voorwaardes, indien daar nood is.
