News

Lykswa al by kwarantynsentrum in Gholfsig gesien

Inwoners van Gholfsig in Middelburg is woedend oor ’n Covid-19 kwarantynsentrum in Jan Cillierstraat 74, waar ’n lykswa al opgemerk is. 

 

“Ek is bejaard, het diabetes en hoë bloeddruk. Al wat my skei van die siek pasiënte is ’n muur. Wie sê dit kan nie oorwaai na my toe nie,” het mnr. Sakkie Swart vanoggend gesê.

Hy het Woensdag op sy balkon gestaan en uitkyk op sy tuin, toe hy die gesondheidswerkers met hul beskermende drag in die erf langsaan opmerk. Hy het ook gesien hoe ambulanse in en uitry en eenkeer ook ’n lykswa.

Mnr. Swart en van die ander inwoners in die omgewing het hulle tot raadslid Jos Pretorius gewend.

“Hierdie kan ’n epidemie binne in ’n pandemie word! Hulle bring siek mense na gesonde mense toe!” het rdl. Pretorius woedend uitgeroep.

“Waarheen gaan hulle met mediese afval? Dink net hoe vinnig gaan die virus versprei as die sakgrawers in daardie sakke krap? Dink net aan al die gevare verbonde om daardie huis. Daar is baie lodges buite Middelburg. Hoekom moet daar ’n kwarantynsentrum in die middel van Gholfsig wees.”

Talle inwoners het in sterk bewoorde WhatsApp boodskappe vir rdl. Pretorius gevra om op te tree.

“Wie sit agter hierdie lewensgevaarlike, doelbewustelike, berekende en onmenslike praktyk om die Covid-19 fasiliteit in ons woongebied te bedryf? Wie het toestemming gegee? Ek en my gesin se lewens word hierdeur bedreig! Hier moet onmiddellik opgetree word! Die plek moet gesluit en ontsmet word op wie ookal verantwoordelik hiervoor was se kostes.”

Daar is ook in die boodskap gesê dat daar nie tyd is vir ’n petisie nie en dat mediese advies ingewin moet word oor hoe hulle as inwoners hulself kan beskerm in die krisis.

Rdl. Pretorius het nog talle boodskappe gewys waarin inwoners hul vrese uitgelig het.

“Hier is nie wetgewing toegepas nie. Volgens die dorpstigting, moet ’n eiendom eers gesoneer word. Hierdie eiendom is gesoneer as ’n gastehuis, nié as as mediese sentrum nie. Daar is nog  talle kwelvrae wat mens kan vra, soos:  is daar beheer op die perseel? Wat van eiendomme in die direkte omgewing van die gastehuis wie se waardasies gaan val. Sal jy ’n eiendom koop naby ’n kwarantynsentrum met Covid-19 pasiënte daarbinne?”

Mnr. Swart sê hy het al sowat drie weke gelede begin onraad vermoed toe die buurmure skielik baie hoër as die wetlike 1.8m gemaak word. Hy het navraag gedoen by die munisipale bou-afdeling, wat onderneem het hulle sal ondersoek doen en terugkeer na hom toe.

“Ek wéét nou hoekom die mure hoër is, want dit vir die kwarantynsentrum, sodat niemand kan inkyk op die perseel nie.”

Rdl. Pretorius het reeds ’n petisie opgestel waarin daar onder andere melding gemaak word van die munisipale bywette ten opsigte van die hersonering van eiendomme, in hierdie geval die Nomndeni Zamabhele lodge, en dat dit nie gesoneer is as ’n gesondheidsentrum nie.

Daar word duidelik gesê dat die inwoners se veiligheid in gevaar gestel word met die sentrum in dié area en is daar gevra dat dit dadelik gesluit moet word.

  • Www.mobserver.co.za het die eienaars van die eiendom gebel. Die man wou nie sy naam bekend maak nie, maar het wel gesê dat die gesondheidsdepartement die hele gastehuis oorgeneem het en dat hy geen kommentaar wil lewer nie.
  • Die inwoners se bekommernis en rdl. Pretorius se mediaverklaring wat hy tot op nasionale vlak uitgestuur het, is aan die Departement van Gesondheid se woordvoerder, Dumisani Malamule, gestuur. Hy het nog nie geantwoord nie.
  • Die mediaverklaring is ook aan die munisipale mediakantoor gestuur, maar daar is vir www.mobserver.co.za gesê dat hulle nie vandag beskikbaar is vir kommentaar nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button