Rudi groet sy ‘familie’ by die polisie
Luitenant kolonel Rudi van Wyk het pas as bevelvoerder van die Rekenpligtige Verliesbestuurkantoor op Middelburg vir die laaste keer sy kantoordeur agter hom toegetrek.
“Hoe som ’n mens meer as veertig jaar van jou lewe op in een onderhoud?” sê hy en besluit om sommer by die begin te begin.
Hy is op 1 Desember 1979 op Carolina deur sy pa, adj. Tommie van Wyk, as polisieman ingesweer.
Na polisiekollege is hy uitgeplaas na Hendrina, vandaar na die Blinkpan Uniform- en Speurtak, later na Belfast, toe die Provinsiale Hoofkantoor se Dissiplinêre Eenheid, die Provinsiale Hoofkantoor Verliesbestuur en sedert Mei 2009 tot en met sy aftrede die bevelvoerder van die tak in Middelburg.
Hy is in Desember 2018 gediagnoseer met kanker, geopereer en het in April 2019 begin met bestraling.
Juis in daardie tyd het die regering die opsie van vervroegde pensioen sonder penalisering aangekondig.
As gevolg van sy gesondheidsituasie het hy daarvoor aansoek gedoen.
“Danksy groot genade van my Hemelse Vader is die kanker sedert die bestraling in remissie.”
Maar waarom het hy die polisie gekies? “Ek het maar altyd probeer om ’n polisieman soos my pa te wees. Sy hantering van die publiek, altyd net met respek, en die feit dat ek kleintyd soms oor naweke saam met hom in die polisievan na klagtes gery het, het my seker maar gemotiveer.”
Wat vir hom uitstaan is 1 Januarie 1983 toe hy na die rang van sersant bevorder is en toe hy op 1 Desember 1991 na die rang van luitenant bevorder is.
Staaltjies is daar net te veel om oor almal te berig, maar hy word gereeld nog deur oudkollegas, asook die redakteur van die Observer, Tobie van den Bergh, herinner aan sy onbeplande motorfietsrit in die gebou van die Provinsiale Kommissaris, “en natuurlik my gebruik van ‘Glad Rap’ op toiletsitplekke.”
Daar is altyd hartseer gebeure wat vassteek in ’n polisieman se kop. Daar is twee gevalle wat hy altyd sal onthou. Die dag toe sers. Hennie Steyn in die aanklagtekantoor doodgeskiet is en ’n jaar gelede toe hy ontbied is na ’n kollega se huis “waar die seun wat voor my grootgeword het, homself om die lewe gebring het. Daardie voorval vat aan ’n mens omdat dit deel van die ‘familie’ is.”
So aan die begin van sy aftrede, maak hy nie wilde beplanningspronge nie, maar sê dat hy vir nou eers gaan rus, maar beslis betrokke sal bly as beampte (hy is ’n skeidsregter) by Fietsry Suid-Afrika, by die Middelburg Vliegklub en moontlik later weer betrokke sal raak by die vakbondwese.
“Vir my kollegas wil ek sê dat jy nie sonder jou kollegas se ondersteuning kan oorleef nie. Al is daar soms onenigheid, bly julle ’n familie. Kyk na mekaar en wees daar vir mekaar.”
Luit-kol. Van Wyk sê dat ’n polisieman soveel tyd saam met sy kollegas spandeer, dat hulle onlosmaaklik deel word van mekaar en ook sy ondersteuningsbasis was.
“Ek is bevoorreg om vriende soos kol. Hannes Pretorius, kol. Danie Hall, luit-kol. Anya Chrissoppoulos en kaptein Liesel Grundling te hê. Hulle kom ’n baie lang pad saam met my en was maar altyd daar as mens ’n oor of hulp nodig het.”
As die lewe gedruk het, was die predikante van die Hervormde gemeente altyd daar vir hom.
“My verhouding met my Hemelse Vader het my absoluut gedra in moeilike en hartseer tye.”
Hy wil baie dankie sê vir stasiebevelvoerder, Brig Jiyane, sy vorige en huidige bevelvoerders en kollegas van Middelburg stasie en ander eenhede op die dorp.
“Sonder hulle ondersteuning sou dit vir my moeilik gewees het om my werk te kon doen. Dankie ook aan pastoor Callie Joubert en sy span vir elke Maandagoggend se boodskap van bemoediging.”
Hy sê ook dankie vir sy vriendin van die afgelope 18 maande, Nadia Kruger. “Sy verdien ’n groot dankie vir haar ondersteuning en liefde, veral tydens my behandeling.”
Ter afsluiting het hy ’n spesiale beroep op die publiek gedoen: “Bly bid vir ons lede, sien goeie werk raak en rapporteer slegte werk aan die korrekte kantoor.”
